Central SA
Van Londen na Milan en later Parys vir Bloemfonteinse model─── HEIDRÈ MALGAS 10:22 Fri, 08 Mar 2024
“My ma het my op ’n jong ouderdom bekendgestel aan modelwerk as ’n stokperdjie, wat toe in ’n passie ontwikkel het, en vandag het ek my stokperdjie in ’n loopbaan omskep.”
’n Negentienjarige model van Bloemfontein het op die loopplank van die Londense Modeweek verskyn as ’n model vir die ontwerpers Blueprint Effect en Bold Black Dresses, en ook in Milaan vir AMR Couture.
Lize Potgieter vertel dit was ’n ongelooflike eer om op so ’n jong ouderdom een van haar grootste drome te verwesenlik. Dit voel steeds onwerklik wanneer sy mense van haar ervaring vertel. “My ma het my op ’n jong ouderdom bekendgestel aan modelwerk as ’n stokperdjie, wat toe in ’n passie ontwikkel het, en vandag het ek my stokperdjie in ’n loopbaan omskep.”

In Mei vanjaar gaan Potgieter na Parys om aan die Europese Modelvertoning deel te neem. Foto verskaf
Die loopplanke in Milaan en Londen was beslis hoogtepunte, nie net vanweë die ervaring om daar te stap nie, maar om ook die ontwerpers te help om hul idees tot uitvoer te bring en die verhaal agter hul ontwerpe te vertel.
“Dit was my eerste keer oorsee, en die belewenis was ongelooflik. Ek sal dit graag weer wil doen. Dit het ’n begeerte vir nog reise in my aangewakker, maar die beste deel was om alles saam met my ma te ervaar – om die wêreld saam met haar te sien en haar trots te maak terwyl sy my op daardie loopplanke sien,” sê sy.

Potgieter se modelwerk het jare gelede begin by AceModels International in Bloemfontein. Foto verskaf
Haar grootste uitdaging as model is om haarself nie met ander modelle te vergelyk nie, terwyl sy daagliks in kompetisie met hulle is. “Ek glo dis baie belangrik om jou handelsmerk te ken en om te weet waarvoor jy staan, want sonder daardie standvastigheid kan jaloesie of negatiewe gevoelens vinnig jou ervarings oorneem en jou selfbeeld begin aantas.”
Sy sê haar doelwit vir vanjaar is om by ’n groot agentskap aan te sluit sodat haar passie in ’n loopbaan omskep kan word. “Ek studeer tans B.Com. Regte en om my graad twee weke opsy te sit om aan die modeweke deel te neem, was definitief vir my die moeite werd. Ek moes net meer tyd inruim en harder werk om steeds daardie doelwitte vir myself te bereik.”

Lize Potgieter op die loopplank in Milaan. Foto verskaf
In Mei vanjaar gaan Potgieter na Parys om aan die Europese Modelvertoning deel te neem, waar modelle uit alle wêrelddele hoop om deur een van die meer as 60 groot agentskappe raakgesien en gewerf te word.
Potgieter se modelwerk het jare gelede begin by Ace Models International in Bloemfontein, waar sy “ongelooflik baie geleer het”, asook by Anri Powell, voormalige direkteur van Ace Models.
