Central SA
Vier in hof oor Joshlin Smith, maar meisie steeds nie opgespoor─── 12:50 Fri, 08 Mar 2024
“Kelly het vir Boeta en Steveno opdrag gegee om Joshlin aan die sangoma te verkoop.”
Hoewel vier verdagtes Donderdag (7/3) in die landdroshof in Vredenburg verskyn het, is daar nog geen teken van die vermiste Joshlin Smith (6) nie.
In die volgepakte hofsaal was daar geen plek vir ’n muis, maar wel baie venyn, haat, woede en selfs wraakgedagtes. Buitekant was dit erger, waar honderde mense van omliggende Weskusdorpe en elders stelling ingeneem het om die verdagtes te sien.
Hulle is Joshlin se ma, Racquel (Kelly) Smith, en haar kêrel Jacquin (Boeta) Appollis, asook die vermeende sangoma Phimza Sigaqa, en Steveno van Rhyn.

Joslhin Smith en haar ma, Kelly Smith. Foto: The Citizen
Volgens die staat het Kelly vir Boeta en Steveno opdrag gegee om Joshlin aan die sangoma vir R20 000 te verkoop. Die geld was moontlik om dwelms te koop.
Die vier verdagtes het probeer om hul gesig weg te steek vir die baie joernaliste in die hof. Daar was ook ’n sterk polisieteenwoordigheid. Hulle moes bontstaan om die oproerige skare in bedwang te jou toe die verdagtes in ’n gepantserde polisievoertuig wegry.
Hulle staan tereg op aanklagte van ontvoering en mensehandel, maar nog klagtes kan by die klagstaat gevoeg word. Hulle bly in aanhouding en moet Woensdag (13/3) weer in die hof verskyn.

Joshlin Smith het in Middelpos, Saldanabaai, vermis geraak. Foto: Google-skermgreep
Gayton Mackenzie, leier van die Patriotic Alliance, het onlangs R250 000 bewillig vir die opsporing van Joshlin en die Wes-Kaapse regering R40 000.
Sammy Claasen van People for Change en ’n inwoner van Saldanhabaai, sê politieke partye moet ophou om munt uit Joshlin se verdwyning te slaan. “Kelly is geen rolmodel vir ander moeders nie en het geen ouerskapregte nie.
“Intussen het politici haar (Kelly) gebruik vir eie gewin. Hierdie leiers het sover geen liefde vir Joshlin betoon nie, maar poets hul eie beeld en dis walglik.”
• Joslhin het op 19 Februarie vermis geraak by hul woonplek in Middelpos, Saldanha. Die soektog na haar duur voort.
