Central SA
Crèche in Kimberley sluit weens inbraak─── 08:34 Sat, 09 Mar 2024
Hierdie keer het die diewe besluit om toegang tot die kleuterskool deur die dak en plafon te kry.
Die “Little Angels Crèche” in Kimberley moes sy deure sluit nadat diewe die afgelope naweek ingebreek en onder meer kos en koperpype gesteel het.

Koperpype is gesteel en die water is laat loop. Foto verskaf
“Die diewe het deur die sinkdak en plafon ingekom en al die koperwaterpype gesteel. Hulle het die water laat loop. Hulle het al die kospakkies vir die kinders, asook die crèche se eetgerei, klere en komberse gesteel,” het Anthea Micheals, die skoolhoof, gesê.

Die diewe het al die kospakkies van die kinders gesteel. Foto verskaf
“Dit moet iemand wees wat gesien het hoe die kospakkies verlede week afgelewer is,” het sy gesê.
Sy het bygevoeg dit is die tweede inbraak en voorheen het hulle die kos en al die stoele gesteel. Hulle het toe deur die deure ingekom en hulle moes toe diefwering installeer om hulle weg te hou. Hierdie keer het die diewe besluit om toegang tot die kleuterskool deur die dak en plafon te kry.

Die crèche se eetgerei, klere en komberse is ook gesteel. Foto verskaf
“Om hierdie rede moes ons die kleuterskool toemaak omdat daar nie kos of komberse vir die kinders is nie.”
"Ons wil ’n beroep op die gemeenskap doen, enigiemand wat bereid is om te help kan die skoolhoof kontak: 084 588 7190.
Alle bystand sal baie waardeer word. Wanneer ons hulp kry, dan kan die crèche weer oopmaak.
OFM Nuus/James Williams
