Click on the warning image to view this post
Central SA
Vanderbijlpark-man herstel rekenaars vir mediese koste ná verlies van hand─── HEIDRÈ MALGAS 08:30 Tue, 12 Mar 2024
“By Sebokeng het ’n weermagdokter my behandel en onmiddellik my pinkie en duim geamputeer.”
’n Jong man van die Vaaldriehoek het einde Januarie byna die helfte van sy hand verloor toe hy besig was om hout met ’n tafelsaag te sny. Skielik het hy lighoofdig geword, ineengesak en in die proses het sy hand onder die saag se lem beland.
Hendrik Swart (26) herstel nou rekenaars en skootrekenaars om ’n inkomste te verdien om sy mediese uitgawes te betaal, maar kort steeds hulp met skenkings.
Sy ma, Daulina Swart, sê toe hy weer bykom, het hy voor sy pa gestaan en hulp gevra. Dié het hom eerste na die Johan Heyns-kliniek op Vanderbijlpark geneem. Daar het hy ’n uur lank vir ’n ambulans gewag om hom na die Sebokeng-hospitaal te neem vir behandeling.

Hendrik se hand nadat die ongeluk gebeur het. Foto verskaf
“By Sebokeng het ’n weermagdokter my behandel en onmiddellik my pinkie en duim geamputeer. My middelvinger is by die eerste lid af en my ringvinger by die laaste lid. Ek het ook ’n sny oor die palm van my hand wat die senuwees beskadig het,” sê Hendrik.
Hy het van 14:00 tot 04:00 die volgende oggend in die ongevalleafdeling gewag vir ’n bed. In die eerste week in die hospitaal is daar elke dag vir hom gesê om nie te eet of te drink nie omdat hulle hom daardie aand sou opereer het, maar dan het niks gebeur nie.

Hendrik se hand ná die amputasie. Foto verskaf
“Ek het myself ná ’n week ontslaan, waarna ’n privaat dokter my verder behandel het, maar my fondse is uitgeput en ek kan nie verdere behandeling bekostig nie,” sê hy. Hy kan ook nie meer werk nie omdat hy handearbeid doen.
Sy hand herstel mooi, maar soms vind hy dit baie moeilik omdat hy nie meer kan doen wat hy voorheen gedoen het nie. Sy grootste uitdaging is dat hy nie meer die houtwerk kan doen waaraan hy gewoond was en waarvoor hy lief was nie.

Sy hand is herstel mooi na die fratsongeluk. Foto verskaf
“My familie ondersteun my ongelooflik baie, maar my pa is self gestrem en ontvang slegs ’n pensioen; dus is dinge moeilik.”
Hy leer elke dag hoe om basiese take met een hand te verrig. Met dit wat hy nie meer self kan doen nie, help sy ma en suster hom. “Ongelukkig laat my finansiële situasie my nie toe om rehabilitasie of terapie te ontvang nie. Ons probeer geld insamel, maar in vandag se lewe is mense nie altyd bereid om te help nie.”
Enigiemand wat die gesin finansieel wil ondersteun sodat Hendrik verdere behandeling en fisioterapie kan ontvang om meer gebruik van sy regterhand te verkry, kan sy BackaBuddy-veldtog ondersteun.
