Central SA
‘Treintiere’ van Argentinië floreer in Vrystaat─── 13:30 Tue, 12 Mar 2024

“Die tiere het hul hele lewe in ’n beknopte treinwa in Argentinië deurgebring, en hulle is die ruimte, vryheid en sorg ontneem wat hulle verdien het.”
Twee jaar gelede het FOUR PAWS sy eerste reddingsending in Suid-Amerika aangepak om vier Bengaalse tiere te red wat ’n lewe van ondenkbare lyding verduur het.
Justine Fortuin van Bloemfontein Courant berig volgens FOUR PAWS se skakelbeampte, Deidré Daniels, het die tiere, bekend as die #TrainTigers, hul hele lewe in ’n beknopte treinwa in Argentinië deurgebring, en hulle is die ruimte, vryheid en sorg ontneem wat hulle verdien het.
“In die afgelope twee jaar het Mafalda, Gustavo, Sandro en Messi uitgebreide rehabilitasie by LIONSROCK Big Cat Sanctuary ondergaan, (18km buite Bethlehem in die Vrystaat). Dankie aan al die moeite van die voltydse veearts op die terrein,” het Daniels gesê.
Volgens dr. Christine Steyrer, wat vir die tiere sorg, gaan dit goed met hulle, ten spyte van geringe chroniese siektes.
“Met hulle aankoms, het ons niks van hulle geweet nie. Ons was meestal bekommerd oor Sandro, aangesien hy ook die oudste is en nie goed kan sien nie. Aan die begin was hy nogal aggressief omdat hy bang was, maar mettertyd het hy baie verbeter. Vandag geniet hy sy omgewing en is waarskynlik die gelukkigste wat hy nog ooit was,” het dr. Steyrer gesê.
Die tiere is twee jaar gelede by LIONSROCK Big Cat Sanctuary vrygelaat. Foto: Daniel Born
“Sandro (gebore in 2004) en Mafalda (gebore in 2007) het 15 jaar saam met hul 10-jarige seuns, Messi en Gustavo, gewoon wat in dieselfde treinwa gebore is in 2011. Hulle is deur ’n sirkus agtergelaat en deur die grondeienaar versorg. Hulle het in die beperkte spasie van hierdie wa geleef tot hul redding en daaropvolgende oorplasing na LIONSROCK in Maart 2022,” het dr. Steyrer bygevoeg.
“Hulle is presies twee jaar gelede hier by LIONSROCK vrygelaat. Ek was gelukkig om te sien hoe hulle destyds in hul nuwe tuiste vrygelaat is. Vandag vier ons hul transformasie van die lewe in daardie treinwa na ’n meer spesie-gepaste leefruimte by LIONSROCK. Tiere, soos alle groot katte, het groter ruimtes nodig vir beweging en interaksies met ander tiere,” het FOUR PAWS se veearts, dr. Amir Khalil, gesê.
#TrainTigers ????????????: The detailed update you have been waiting for! ?? Since moving from a train carriage to their forever home at our LIONSROCK Big Cat Sanctuary, the lives of the four tigers from Argentina have certainly changed significantly. pic.twitter.com/SxacmrlFPl
— FOUR PAWS International (@fourpawsint) July 4, 2022
“Daar is honderde diere soos leeus en tiere in aanhouding in Argentinië en daar is geen spesie-gepaste ruimte vir hulle waar hulle permanent geakkommodeer kan word nie. Dit is ’n groot dierewelsynsprobleem in die land en ander dele van die wêreld. Dit is net een voorbeeld van hierdie wreedheid – die treintiere wat vir 15 jaar in ’n treinwa gewoon het. Vandag is hulle vry om wild te wees!” het dr. Marina Ivanova, Internasionale Sendingskoördineerder van Reveal Rescue Response, gesê.
FOUR PAWS sorg vir groot katte uit alle wêrelddele in hierdie geskikte omgewing by LIONSROCK Big Cat Sanctuary. Baie ander groot katte in die wêreld staar egter ’n tragiese lot in die gesig.
OFM Nuus cg