Central SA
Soektog duur voort na vermeende babamoordenaar van Kenhardt─── 12:25 Wed, 13 Mar 2024

“Hul babaseun se liggaam is later in ’n veld naby sy ouerhuis op Kenhardt gevind.”
Die beloning vir die opsporing van ’n pa van Kenhardt in die Noord-Kaap wat na bewering sy baba vermoor het, is verdubbel.
Wouter Pieterse (29) het glo Sondag (10/3) tydens ’n rusie met sy meisie, Marcolene Gouws, die twee maande oue baba in ’n rugsak gesit en die huis met hom verlaat. Hul babaseun se liggaam is later in ’n veld naby sy ouerhuis op Kenhardt gevind. Pieterse is sedertdien net spoorloos.
Inwoners van Kenhardt help in die soektog na Wouter Pieterse. Foto verskaf
Een van die inwoners Owen Eland het die leiding geneem om ’n soekgeselskap op die been te bring. “Daar is aanvanklik ’n beloning van R2 000 beloof vir die persoon wat weet waar die verdagte is sodat hy gearresteer kan word,” vertel Eland. “Die Makey sekuriteitsmaatskappy het intussen bekendgemaak dat hulle bereid is om nog R2 000 te skenk.”
Eloise Pretorius het ook Dinsdag in die versengende hitte aan die soektog deelgeneem. Sy sê hulle het nog tot skemer in die veld en klipkoppe na die verdagte gesoek. “Ons vermoed dat hy naby sy huis kan wees. ’n Helikopter sal ons nou baie help, want die wêreld hier is baie ru.”
Die polisie soek na Wouter Pieterse wat na bewering sy babaseun vermoor het. Foto verskaf
Kai !Garib-burgemeester Marshall Matthys het aangebied om die beloning van R4 000 te verhoog. Hy gaan ook die soekgeselskappe van kos voorsien.
Inwoners van Kenhardt en die polisie het weer Woensdagoggend (13/3) na Pieterse gaan soek, maar steeds sonder enige sukses.
’n Saak van moord is aanhangig gemaak, sê Omphile Masegela, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder. Enigeen met inligting oor waar Pieterse hom bevind, kan Elrich Mienies, ondersoekbeampte, by 060 9843 520 bel.
OFM Nuus/Isaac Cloete dg