On Now
Weekends 05:00 - 06:00
Opstaan OFM
NEXT: 06:00 - 09:00 Weekend Breakfast with Gerben and Anny
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaatse regering begin ou fabrieke opknap

───   ZENANDE MPAME 13:59 Wed, 13 Mar 2024

Vrystaatse regering begin ou fabrieke opknap | News Article
Naledi Phahlo, entrepreneur, Mxolisi Dukwana, Vrystaatse premier, en Thabo Meeko, LUR vir Destea. Foto: Zenande Mpame

“Die doel van die opknappingsprogram is om die maatskaplike en ekonomiese toestande van die mense te verbeter.”

Die Vrystaatse regering het Dinsdag (12/3) met die opknappingsprogram vir staatsbeheerde fabrieke begin om meer beleggings vir ekonomiese groei en werkskepping na die Botshabelo- Digital Hub te lok.

Die projek gee gestalte aan beloftes wat gemaak is op die beleggingskonferensie wat Dinsdag (27/2) gehou is. Mxolisi Dukwana, Vrystaatse premier, en Thabo Meeko, LUR vir Destea, het die bekendstelling bygewoon.

Die opknappingsprogram vir staatsbeheerde fabrieke is by die Botshabelo Digital Hub van stapel gestuur. Foto: Zenande Mpame 

Sowat 6 000 mense werk in die Botshabelo-nywerheidspark. As die fabrieke tot hul volle potensiaal benut kan word, sal nog 5 000 in diens geneem kan word. Een maatskappy is gehelp om ’n fabriek te kry en sal aan die einde van die maand verhuis.

“Die maatskappy se naam is Dee Dee Hygiene Solutions; ons is ’n vervaardigingsmaatskappy en ons vervaardig bio-afbreekbare skoonmaakmiddels van gehalte vir nywerhede en huishoudelike gebruik,” sê Naledi Phahlo, eienaar van Dee Dee Hygiene Solutions.

Naledi Phahlo en haar produkte. Foto: Zenande Mpame

Hulle vervaardig politoer, bleikmiddel, toiletpapier, waspoeier en -wasgoedversagmiddel.

Dee Dee Hygiene Solutions het 15 werknemers en sodra die fabriek aan die gang is, sal Phahlo nog 30 mense in diens kan neem. Die moontlikheid bestaan van tot 35 verkoopsagente.

Dee Dee Hygiene Solutions vervaardig verskeie produkte. Foto: Zenande Mpame

Die owerheid streef daarna om die fabrieke in sy nywerheidsgebiede te moderniseer en op te knap, insluitend Botshabelo en Qwaqwa.

“Ek is dankbaar teenoor die premier en LUR vir die bekendstelling van my maatskappy. Ek is ook dankbaar vir die fabriek. Ek het ’n saketransaksie verloor omdat ek van die huis af gewerk het en nie die hoeveeldheid kon vervaardig wat hulle benodig het nie,” sê Phahlo.

OFM Nuus/Zenande Mpame dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.