Central SA
Oorvol skoolbusse stel Noord-Kaapse leerders in gevaar─── HEIDRÈ MALGAS 15:59 Wed, 13 Mar 2024
“Die probleem met leerdervervoer word regdeur die provinsie gerapporteer.”
Die DA het 'n onmiddellike ondersoek gevra na die oorlaai van skoolbusse in die Noord-Kaap. Dit volg ná ’n toesigbesoek in Hartswater waar hulle ekstreme gevalle van oorbevolking waargeneem het.
Isak Fritz, die DA se premierskandidaat vir die Noord-Kaap, sê by die Tadcaster Intermediêre Skool het 'n enkele bus twee ritte onderneem, en onderskeidelik 113 en 141 leerders vervoer ten spyte van die voertuig se kapasiteitsbeperking van slegs 65.
"Die gevaarlike oorlaai was voorheen aan die onderwysdepartement voorgelê sonder enige effektiewe maatreëls wat geneem is.”
‘Kommer oor onpadwaardige voertuie’
Hy sê die probleem met leerdervervoer word regdeur die provinsie gerapporteer. In die Joe Morolong Plaaslike Munisipaliteit het leerders en hul gesinne hul kommer uitgespreek oor die gebruik van onpadwaardige voertuie en die oorvol voertuie, wat almal noodsaaklike padveiligheidsregulasies oortree.
"Die situasie waar leerders gedwing word om riskante reise te onderneem net om toegang tot onderwys te kry, word deur die DA as onaanvaarbaar beskou. Hulle dring daarop aan dat die departement deeglike ondersoeke doen na die roetes wat gebruik word om leerders te vervoer en om die veiligheid van elke kind op pad skool toe te bevestig."
‘DA wil gratis vervoer bied vir die wat werk soek’
Die DA beklemtoon sy inisiatiewe om gratis vervoer aan te bied vir diegene wat werk soek. Die party voer aan die transformasie van die Noord-Kaap se onderwysvooruitsigte is afhanklik van ondersteuning vir die DA in die verkiesing.
Op 7 Februarie was verskeie gr. 8-leerders van die Hoërskool Riebeeckstad in die Vrystaat betrokke in 'n skoolbusongeluk. Ses leerders is in dié ongeluk dood en talle beseer.
Die ongeluk het op die R70 naby Ventersburg in die Vrystaat gebeur. Baie ouers beweer die ongeluk kon vermy gewees het, as die bus padwaardig was.
"Dit is onaanvaarbaar dat leerders elke dag hul lewe moet waag as hulle skool toe gaan,” sê Fritz.
OFM Nuus dg

