On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Michael
Listen Live Streams

Central SA

Sportmal Senekal-meisie droom steeds van sportloopbaan ná ongeluk

───   KAREN VAN DER BERG 09:43 Thu, 14 Mar 2024

Sportmal Senekal-meisie droom steeds van sportloopbaan ná ongeluk  | News Article
Carlin Pienaar (17), ’n gr 11-leerling van Senekal, se regtervoet is vergruis in ’n ongeluk. Foto verskaf

Hulle vertrou dat haar toekoms steeds rooskleurig sal wees en dat sy haar sportloopbaan sal kan voortsit.

’n Veelsydige sportster van die Hoërskool Paul Erasmus op Senekal, wat onlangs haar voet in ’n ongeluk met haar bromponie vergruis het, hoop om teen September terug op die krieketveld te wees.

Carlin (Carries) Pienaar (17) was Maandag 4 Maart met haar bromponie op pad na ’n hokkieoefening toe sy en ’n bakkie by ’n verkeerslig gebots het. Carlin het haar regtervoet vergruis, diep snye aan haar linkerbeen opgedoen en nekbeserings opgedoen.

’n Bakkie en Carlin Pienaar se bromponie het by ’n verkeerslig gebots. Foto verskaf

Die gr. 11-leerder is ’n provinsiale krieketspeler en is ’n snelbouer vir die span. Sy speel ook provinsiaal tennis en is lief vir hokkie.

Haar ma, Talitha Pienaar, sê dit gaan onder omstandighede goed met haar. Sy was ’n week lank in die Dihlabeng-streekhospitaal in Bethlehem waar sy chirurgie aan haar voet ondergaan het om die voet weer op te bou. Penne wat in haar voet gevoeg moes word, moes uit Kaapstad kom.

Die gesin sê hulle het goeie diens hier gekry en is dankbaar vir die behandeling. Sy is wel teleurgesteld dat sy die skool se hokkietoer na Mosselbaai in die komende moet misloop.

Carlin Pienaar was ’n week lank in die Dihlabeng-streekshospitaal op Bethlehem waar sy chirurgie aan haar voet ondergaan het. Foto verskaf

Carlin, wat nou die Vrystaatse o.16-span verteenwoordig, hoop dat sy teen September heeltemal herstel het sodat sy aan die o.19-proewe kan deelneem en ook kan speel om vir ’n beurs te kwalifiseer.

’n Mens weet nie altyd hoekom die dinge gebeur nie, sê Talitha. Maar hulle vertrou dat haar toekoms steeds rooskleurig sal wees en dat sy haar sportloopbaan sal kan voortsit. “Sy is regtig sportmal en dit is vir haar baie belangrik.”

Die familie behoort nie op die oomblik aan ’n mediese fonds nie. Talitha se man, André Pienaar, is op parool. Hy het ’n jaar tronkstraf uitgedien nadat hy in 2022 skuldig bevind is aan een aanklag van openbare geweldpleging.

Carlin Pienaar is ’n kranige sportvrou en hoop om ten volle te herstel om terug te keer na die sportveld toe. Foto verskaf

Dit was tydens die opspraakwekkende oproer op Senekal twee jaar tevore toe die verdagtes van die moord op die plaasvoorman Brendin Horner in die hof verskyn het. Hy is sedert verlede jaar Januarie uit die tronk uit en in korrektiewe toesig, maar sukkel om weer op die been te kom.

Vriende van die familie het ’n BackABuddy-veldtog begin om Carlin met rehabilitasie te help sodat sy na die sportveld kan terugkeer. Dit is die “Hulpfonds vir Carries” en kan ook op Facebook by Carries - Fundraiser Page gevolg word.

OFM Nuus/Karen van den Berg cg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.