Central SA
Boereoorlog-dag vir Springfontein beplan─── 10:05 Thu, 14 Mar 2024
“Wat buitengewoon van die begraafplaas is, is dat Boer en Brit langs mekaar begrawe is.”
Op Donderdag (21/3) word ’n Boereoorlog-dag op die plaas Prior Grange in die distrik Springfontein gehou.
Historiese gedenkpunte wat besoek word, sluit in die blokhuis op Prior Grange, die Anglo-Boereoorlog-konsentrasiekamp, die Wasklip en die kinderbegraafplaas, waar 37 ongedoopte babas begrawe is.
Die blokhuis op Blackie de Swardt se plaas, Prior Grange, is suid van die dorp op ’n koppie van die N1-snelweg af te sien. Fondamente van ander blokhuise kan nog in die omgewing gesien word.

Wat buitengewoon van die begraafplaas is, is dat Boer en Brit langs mekaar begrawe is. Foto verskaf
Op ’n klip by die ingang is deur die Tommies uitgekerf dat die A-kompanjie van die First Royal Irish Fusiliers daar diens gedoen het.
MC Heunis gaan op die Boereoorlogdag ’n praatjie lewer oor ’n boer en sy roer, wat sal handel oor die gewere wat tydens die oorlog gebruik is.
Die beeldegroep aan die voet van die Vrouemonument in Bloemfontein het sy oorsprong op Springfontein gehad. Emily Hobhouse het hier ’n bedroefde ma met haar kind se lykie op haar skoot teëgekom.
Die konsentrasiekamp is in Februarie 1901 wes van die spoorlyn opgerig. Min het daarvan oorgebly of van die Walliese veldhospitaal waar die Boervroue en -kinders behandel is. Die wasgoedgebied en dele van die waterwerke het oorgebly, asook die huis De Bome waar Hobhouse met haar besoeke aan die konsentrasiekamp tuisgegaan het.

Altesame 37 ongedoopte kinders is in die kinderbegraafplaas wes van die konsentrasiekamp begrawe. Foto verskaf
Wat buitengewoon van die begraafplaas is, is dat Boer en Brit langs mekaar begrawe is. Lt. lord O’Hagan, wat op 12 Desember 1900 begrawe is, is ’n paar meter begrawe vanaf Mattheus Hendrik Steyn, ’n broer van pres. M.T. Steyn, wat hier op pad na ’n krygsgevangenekamp in die Kaap op die trein siek geword en hier afgelaai is, waar hy gesterf het.
Vicky Heunis, skrywer van Krygsgevangenekuns in die Anglo-Boereoorlog en versamelingbestuurder van die Oorlogsmuseum in Bloemfontein, gaan op die Boereoorlogdag gesels oor die krygsgevangenekuns.
Byna 700 Boervroue en -kinders en 300 Britse soldate is in die begraafplaas 2 km suidoos van die dorp begrawe. Ds. Sandrock, wat die Boere in die kamp bedien het, het geglo ongedoopte kinders moet apart begrawe word; vandaar die 37 graffies in ’n afsonderlike kerkhof.
