Central SA
Ma en dogter van Bloemfontein deel hul mooiste dag─── KAREN VAN DER BERG 11:29 Thu, 14 Mar 2024
“Ek sal die dag nooit vergeet nie. Ek sal dit vir ewig koester. Dit was alles waaroor ons kon droom en soveel meer.”
Twee bruide in wit sprokiesrokke en twee bruidegomme, maar net een datum en een onthaal..
Vir ’n ma en dogter van Bloemfontein was dit vanselfsprekend om hul mooiste dag te deel, albei as stralende bruide. Met mans wat hulle boonop nog op dieselfde plek ontmoet het. Sommer ’n dubbele vrag liefde op een dag.
Erika Curlewis (50) en haar dogter, Mckyla Grundlingh (24), is nog altyd soos vinkel en koljander. Hulle is beste vriendinne en deel alles met mekaar.

Erika Curlewis en haar dogter, Mckyla Grundlingh, is soos vinkel en koljander. Foto: Yolandie Botha
Erika is getroud met Johan Curlewis (56) en Mckyla met George Grundlingh (31). Die groot dag was op 20 Januarie by die Groen Akker in Bloemfontein.
Erika, ’n mediese verteenwoordiger, het sowat agt jaar gelede vir Johan by ’n kuierplek in die stad ontmoet. Sy het daar gewerk en Johan was ’n gereelde klant. Hulle het gou lekker begin dans en dit was duidelik dat hulle baie van mekaar hou.
Mckyla, ’n kredietkontroleerder, het George ook daar ontmoet. Sy het as kelnerin by die kuierplek gewerk. Die egpaar se seun, Nathan. is een jaar oud.
“Ek sal die dag nooit vergeet nie. Ek sal dit vir ewig koester. Dit was alles waaroor ons kon droom en soveel meer,” sê Mckyla.

Mckyla en Erika het ’n hegte band. Foto: Yolandie Botha
Vir Erika was haar troudag ook spesiaal omdat sy op dié dag haar 50ste verjaarsdag gevier het. Mckyla sê sy en haar ma het ’n besonderse verhouding. “Ek deel alles met haar vandat ek klein is. Ons is al deur moeilike tye saam en dit het ons nader aan mekaar gebring.” Hulle is nie slegs ma en dogter nie; hulle is vriendinne.
“Dit was die perfekte dag. Ek wens dit kon net bietjie stadiger verbygegaan het.”

Dit was ‘n unieke feesviering. Foto: Yolandie Botha
Die Bloemfonteinse fotograaf Yolandie Botha sê dit was die eerste keer dat sy ’n dubbele troue afgeneem het. “Hoewel ek dit aanvanklik vreemd gevind het, was dit ’n unieke feesviering en dit was perfek.”

Hulle het dit so mooi met mekaar gedeel. Foto: Yolandie Botha
Botha sê sy het nog nooit ’n band tussen ’n ma en dogter beleef soos tussen Mckyla en Erika nie. “Elkeen was ’n bruid uit eie reg en hulle kon dit so mooi met mekaar deel. My doel was om elke oomblik vas te vang, want ek het geweet so ’n troue kom nie aldag oor ’n mens se pad nie en hulle moet die foto’s vir ewig koester.”
OFM Nuus/Karen van der Berg cg/dg
