Click on the warning image to view this post
Central SA
Leerder van Heidedal ernstig beseer in skokvoorval by skool─── HEIDRÈ MALGAS 13:26 Thu, 14 Mar 2024
“Hy was histeries, maar kon nie praat nie.”
’n Graad R-leerder van die Laerskool Olympia in Heidedal, Bloemfontein, is in die intensiewesorgeenheid van die Pelonomi-hospitaal opgeneem nadat hy na bewering deur ’n foutiewe paalkonneksie op die skoolterrein geskok is.
Howard Ndaba, Vrystaatse onderwyswoordvoerder, beskryf Maandag (11/3) se voorval as “baie ongelukkig”, en sê as die departement en die skool van die foutiewe paalkonneksie geweet het, sou hulle dit herstel het.

Die bouwerk vind volgens die Onderwysdepartement op ’n ander terrein plaas. Foto verskaf
’n Werknemer van die skool, wat anoniem wil bly, sê hy het die leerder met sy hande vas aan die duiwelsvurk gevind. Aanvanklik het hy gedink die seun kry ’n toeval, maar toe hy die seun aanraak, kon hy die skok voel.
“Op daardie oomblik het ek nie aan my eie veiligheid gedink nie, maar ek het hom opgetel. Hy was histeries, maar kon nie praat nie,” vertel hy. Die seuntjie het beserings aan sy kop, bene, arms en voete opgedoen.

Die dokters sê sy toestand is kritiek maar stabiel. Foto verskaf
’n Voormalige lid van die skoolbeheerliggaam sê die elektrisiteit is ’n ou probleem en nie iets wat nou skielik kop uitgesteek nie. Dit kom al van 2021 af.
OFM Nuus het die onderwyswoordvoerder gevra of daar onlangs veiligheidsinspeksies by die skool gedoen is. Ndaba sê hy is nie seker nie, maar die skool word versoek om sulke inspeksies nou en dan te doen.
Die Vrystaatse Onderwysdepartement is in die proses om mobiele strukture by die skool op te rig. Inwoners is besorg dat die projek die skool se elektrisiteit gebruik en dus sy kragrekening laat toeneem. Die projek se gemeenskapskakelbeampte het bevestig dat hulle inderdaad die skool se elektrisiteit gebruik.

Die seuntjie het beserings aan sy kop, bene, arms en voete opgedoen. Foto verskaf
“Die bouperseel en die voorval van die kind wat geskok is, hou geen verband met mekaar nie, en die bouwerk vind op ’n ander terrein plaas,” het Ndaba gesê.
“Ons as die departement, die skool en die skoolbeheerliggaam is diep bedroef oor die situasie,” het Ndaba gesê.
Hy noem daar is aanvanklik gesê die departement moet die skuld vir die voorval kry. Hy sê egter hulle sal nooit doelbewus so iets laat gebeur nie.

Die Onderwysdepartement sê as hulle en die skool van die foutiewe paalkonneksie geweet het, sou hulle dit herstel het. Foto verskaf
Ndaba sê toe hy die leerder Woensdag in die hospitaal besoek, het die dokters gesê sy toestand is kritiek maar stabiel.
Die gemeenskap is ontevrede met hoe die situasie hanteer is en eis antwoorde van die departement, skoolhoof en die raadslid van Heidedal.
