On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Skrywers van Bloemfontein skitter in skrywerskompetisie

───   KAREN VAN DER BERG 13:07 Thu, 14 Mar 2024

Skrywers van Bloemfontein skitter in skrywerskompetisie | News Article
Die Bloemfonteinse skrywer Fanie Viljoen. Foto verskaf

“Hulle doen alles saam en daar mag geen meisies wees nie. Dan raak dinge interessant.”

Twee gesoute skrywers van Bloemfontein, Fanie Viljoen en Annerle Barnard, is as wenners bekroon in die LAPA-jeugromankompetisie 2023. Die wenners is Woensdagaand (13/3) op die Facebook-blad Lekkerleesboekrak bekendgemaak.

Viljoen is as die wenner aangewys vir Ons laaste legendariese somer en word beloon met prysgeld van R30 000. Drie naaswenners is ook aangekondig, waaronder Barnard se Sterstof. Die ander twee naaswenners is Jacolet van den Berg met Bravo! Charlie en Zelda Bezuidenhout  se Quinn se jaar van kwik. Hulle wen R10 000 elk.

Fanie Viljoen. Foto verskaf

LAPA sê Viljoen se boek sal teen September op die rakke wees. Barnard se boek verskyn in November. Van die ander boeke op die kortlys kan moontlik ook binne die volgende jaar gepubliseer word.

Viljoen sê hy was baie verras oor die prys. “Ek het skoon hoendervleis gekry, selfs in die Bloemfonteinse hitte.”

‘Elke prys is besonders en spesiaal’

Hy sê die prys is ’n geweldige motivering dat al die ure wat hy so alleen voor die rekenaar sit, die moeite werd is. “Elke prys is besonders en spesiaal. Dit spoor my net aan om aan te hou skryf en my verbeelding te gebruik en te droom.”

Viljoen vertel die manuskrip gaan oor drie gr. 11’s wat besef die Desembervakansie wat voorlê, is hulle laaste ordentlike skoolvakansie. Die vakansies in hulle matriekjaar sal hulle moet vakansieskool doen en daarna is hulle nie meer skoolkinders nie.

“So hulle besluit om hulle laaste somervakansie te geniet. Hulle gaan af na Vleesbaai en maak drie reëls: Hulle mag nie baklei nie, hulle doen alles saam en daar mag geen meisies wees nie. Dan raak dinge interessant,” sê hy.

Hy bedank LAPA dat hy Afrikaans ondersteun en seker maak dat Afrikaanse kinders nog Afrikaanse boeke kan lees.

Annerle Barnard, Foto verskaf 

Vir Barnard is die prys ’n groot lekkerte waaroor sy baie opgewonde is. “Ek het eerlikwaar nie geweet wat om te verwag nie. Daar was soveel kompeterende skrywers op die kortlys met sulke goeie name in die bedryf.”

Sy sê in Sterstof is dit die eerste keer wat sy ’n hoofkarakter het wat ’n meisie is. “Die manuskrip is ook spanningsvol en daar is natuurlik romanse. Die tema van groen word ook aangeraak.”

Hoewel die naam mense kan laat dink dit het ’n wetenskaplike tema, is dit nie so nie, sê sy. Die boek is anders as haar vorige werke, en sy is baie opgewonde daaroor.

OFM Nuus/Karen van der Berg dg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.