On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Geliefde ‘dr. Nick’ van Vereeniging oorlede

───   14:31 Fri, 15 Mar 2024

Geliefde ‘dr. Nick’ van Vereeniging oorlede | News Article
Dr. Nick Grobbelaar. Foto: Facebook

“Dr. Nick, langer as 45 jaar was jy my huisdokter; jy het altyd so baie omgegee en so baie moeite gedoen.”

Dr. Nick Grobbelaar, bekende dokter van Vereeniging, is Donderdag (14/3) aan pankreaskanker oorlede. Hy was lank verbonde aan die Mediclinic Drie Riviere voordat hy in 2022 afgetree het.

Grobbelaar is op Senekal in die Vrystaat gebore volgens ’n berig wat jare gelede in The Citizen verskyn het . “Dit was sy ideaal van jongs af om ’n gesinsdokter te word omdat hy van mense hou en graag met mense wou werk. Sy lewensmotto is om goed te doen en nooit skade aan te rig nie.”

Hy het aan die die Universiteit van Pretoria studeer was nagenoeg 55 jaar in die beroep. Op Facebook het tientalle van sy pasiënte en oudkollegas hulde aan hom gebring.

‘Kon enigiets met hom bespreek’

Ria du Toit skryf: “Dr. Nick, langer as 45 jaar was jy my huisdokter, altyd so baie omgegee en so baie moeite gedoen om by die wortel van die kwaad uit te kom. Jy was my raadgewer, trooster, altyd geduldig, vriendelik en vol simpatie, kon enigiets met hom bespreek en altyd dadelik ’n mooi en eerlike antwoord gekry.

“Rus in vrede, liewe dr. Nick. Innige simpatie aan Marlene, Nickie, Brummer, Rex en julle families. Sterkte vir julle want daar het ’n groot seder geval.”

Annelie Cronjé: “Rus sag, Dokter, sal u altyd onthou vir u sagte hart en oë wat diep tot in jou siel kon kyk. Hy was ons huisdokter vandat ek ’n klein dogtertjie was. My ma-hulle het in niemand anders geglo nie, en ons ook nie toe ons groter word.”

Dr. Nick Grobbelaar. Foto verskaf

Op sosiale media skryf Rika Odendaal: “Wonderlike GP gewees. Rus in vrede, dr. Nick. Net goeie goue voetspore in verpleegpersoneel se hart agtergelaat. U sal in ons hart voortleef.”

Johan Michael Dorfling: “Was vir my ’n groot voorreg om soveel jare saam met Dok te kon werk. Rus sag, dr. Grobbs.”

“My hart is stukkend,” skryf Anne-marie Bauman. “Dr. Nick, soos almal sê, het ’n hart van goud gehad en altyd plek gemaak vir nog ’n pasiënt. Ons sal jou onthou vir die wonderlike mens wat God ons geleen het in gesondheidsorg. Jy was merkwaardig.”

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen dgg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.