Central SA
Pelonomi-hospitaal steek stokkie voor oorsigbesoek – VIDEO─── ZENANDE MPAME 14:45 Tue, 19 Mar 2024
“Die rede vir hierdie besoek was om die toenemende gesondheidsorgkrisis in die Vrystaat aan die lig te bring.”
Die media en ’n opposisieparty is Dinsdagoggend (19/3) toegang tot die Pelonomi Akademiese Hospitaal in Bloemfontein geweier ná ’n beplande besoek deur die DA se premierskandidaat, woordvoerder oor gesondheid en ander lede van die provinsiale wetgewer.
Die doel was om aandag te vestig op die toenemende probleme in gesondheidsorg in die Vrystaat, soos gebrekkige infrastruktuur en die magdom mediese regseise.
“’n Baie kommerwekkende aspek van hierdie besoek is dat ons met niemand mag praat nie. Die hospitaal het ons verhoed om ons oorsig uit voer, en as parlementslid is dit my grondwetlike mandaat,” het Michelle Clark, DA-woordvoerder oor gesondheid, gesê.
Dr. Roy Jankielsohn, Vrystaatse DA-premierskandidaat en Michelle Clark, DA-woordvoerder oor gesondheid.
Sy sê dis ook kommerwekkend dat haar party se verteenwoordigers die hospitaal besoek het om te verseker dat pasiënte die beste moontlike mediese sorg kry, maar toegang geweier is. “Ons was glo veronderstel om vooraf aansoek te doen om toegang te kry.”
“In die Vrystaat is gereelde terreinbesoeke soos hierdie by gesondheidsorggeriewe, insluitend hierdie een, iets wat ons doen en glad niei ’n nuwe ding nie. Die grootste kommer is die infrastruktuur van ons fasiliteite in die Vrystaat en in baie van ons hospitale en klinieke,” het dr. Roy Jankielsohn, Vrystaatse DA-premierskandidaat, gesê.
“Ons het ook ’n lang wagtyd vir pasiënte in die Vrystaat, veral wat operasies betref, en ons het lang agterstande van sekere operasies wat ons onaanvaarbaar vind. Die toestand van die gesondheidsorggeriewe in ons provinsie is in ’n toestand van verval.”
