Central SA
Tweede inbraak by PEP-winkel in Phillippolis─── 13:38 Wed, 20 Mar 2024

Inwoners van verskeie dorpe in die Kopanong-distrik is baie bekommerd oor die misdaad wat klaarblyklik PEP-winkels teiken.
Inbrake by PEP-winkels in die Kopanong-distrik neem drasties toe. Daar word weekliks voorvalle aangemeld in verskeie plattelandse dorpe.
Polisiewoordvoerder Kaptein Loraine Earle het bevestig dat daar vanaf Februarie 2024 verskeie inbrake by PEP-winkels in die Kopanong-distrik was. Inbrake is op Reddersburg, Phillippolis, Koffiefontein en Trompsburg aangemeld.
Gedurende die inbrake by Phillippolis en Reddersburg het die verdagtes gebruik gemaak van plofstof om toegang tot die inhoud van die kluise te verkry.
Tydens die tweede inbraak by Phillippolis is daar egter ‘n hoekslyper gebruik om die kluis oop te kry. Selfone, lugtyd en ander waardevolle items is gesteel.
Die inbrake by PEP word ondersoek deur ’n toegewyde groep ondersoekbeamptes. Foto: Jens Friis
By die Trompsburg-inbraak het die verdagtes ’n baksteen gebruik om die vertoonvenster van die winkel te breek. Hulle het selfone en lugtyd gesteel en nie ’n poging aangewend om die kluis oop te kry nie.
Die afgelope naweek is twee verdagtes weens die inbraak by Reddersburg in hegtenis geneem.
‘Gemeenskap is bekommerd dat PEP daardie winkels gaan sluit’
Die sake word ondersoek deur ’n toegewyde groep ondersoekbeamptes van die Georganiseerde Misdaadeenheid of Valke.
Inwoners van verskeie dorpe in die Kopanong-distrik is baie bekommerd oor die misdaad wat klaarblyklik PEP-winkels teiken. PEP is die enigste kettingwinkelgroep op die platteland wat selfone verskaf. Die gemeenskap is bekommerd dat PEP daardie winkels gaan sluit as die misdaad nie vinnig opgelos word en die verdagtes vinnig aangekeer word nie.