Central SA
Skool in Bloemfontein vra polisie se hulp om leerders veilig te hou─── HEIDRÈ MALGAS 15:44 Wed, 20 Mar 2024

“Dit is moeilik om hulle veilig te hou omdat die skool naby Small Street is.”
Die Dr. Viljoen Gekombineerde Skool in Bloemfontein het vandag (20/03) 'n optog oor veiligheid en dwelmmisbruik gehou. Hulle het 'n memorandum aan die polisie oorhandig vir meer sigbaarheid in Elastraat, ook bekend as ‘Small Street’, waar die leerders blootgestel word aan gevaar en dwelms
Jacques Louw, waarnemende adjunkhoof, sê hulle doen dit om te vra vir 'n veilige omgewing omdat hulle by die skool seker maak die kinders is veilig.
"Wat vir my 'n uitdaging is, is voor skool en ná skool wanneer die kinders by die skool kom en die skool verlaat. Dit is moeilik om hulle veilig te hou omdat die skool naby Small Street is," sê Louw.
Polisielede het met die leerders gepraat oor die gevare van dwelm- en drankmisbruik. Foto verskaf
Small Street is bekend vir kuierplekke, winkels, en drankwinkels. Die skoolgemeenskap is bekommerd oor die algemene veiligheid van sy leerders. Daar was verskeie voorvalle waar leerders ná skool beroof is van hul selfone en persoonlike items.
‘Ongelukkig moet hulle deur Small Street loop’
Hulle word ook blootgestel aan die sogenaamde dagga-apteke. "Meeste van die kinders gebruik openbare vervoer en ongelukkig moet hulle deur Small Street loop, en dan die volgende oggend kry ek oproepe van ouers wat aanmeld dat hulle kinders beroof was."
Louw sê hy wil nie hê die polisie moet ondernemings sluit nie, maar met die polisie se teenwoordigheid kan dit dalk verhoed dat die leerders dwelms en drank misbruik.
Die lede van die Parkweg-polisiekantoor het ook met die skool se gr. 10- en gr. 11-leerders gepraat oor die gevare van dwelmmisbruik.
OFM Nuus/Heidrè Malgas