On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Nolwethu
Listen Live Streams

Central SA

OPGEDATEER: Joshlin Smith se ma swanger in gevangenis; vierde verdagte in hof

───   08:00 Mon, 25 Mar 2024

OPGEDATEER: Joshlin Smith se ma swanger in gevangenis; vierde verdagte in hof | News Article
Joshlin en haar ma, Kelly Smith. Foto’s: Facebook; YouTube screenshot

“Ek het vir hulle gesê om met haar op te volg of sy swanger is en seker te maak dat sy op ’n veilige plek gehou word omdat die baba kan seerkry.”

OPDATERING:

Al die beskuldigdes in die saak van die vermiste sesjarige Saldanhabaai-meisie, Joshlin Smith, het nou hul borgtogaansoeke laat vaar.

Lourentia “Renz” Lombaard, een van die vier wat aangekla word in verband met die verdwyning van die graad 1-leerling van die Laerskool Diazville, Joshlin Smith, het haar borgtogaansoek Maandagoggend, 25 Maart, in die Vredenburg-landdroshof teruggetrek. Haar saak is tot 13 Mei uitgestel wanneer sy na verwagting by haar medebeskuldigdes in die Vredenburg-landdroshof sal aansluit.

Kelly Smith, die ma van die vermiste groenoog-meisie van Saldanha, Joshlin Smith, is weer swanger … hierdie keer agter tralies.

Ds. June Dolley-Major, 'n aktivis wat aktief by die soektog na klein Joshlin aangesluit het, het aan Rapport onthul dat Kelly weer swanger is.

Dolley-Major het gesê dat sy aanvanklik die nuus wou geheim hou, maar die onlangse aanranding op Joshlin se ma in die gevangenis het haar oortuig om die owerheid van die swangerskap in te lig.

“Ek het vir hulle gesê om met haar op te volg of sy swanger is en seker te maak dat sy op ’n veilige plek gehou word omdat die baba kan seerkry. Die departement het toe die swangerskap bevestig,” het Dolley-Major gesê.

“Voorheen kon ’n mens in die tronk na jou baba omsien. Daar is ’n afdeling vir swanger vroue en moeders met kinders. Ma’s word gewoonlik vir ’n tydperk van twee jaar toegelaat om na hul kinders wat in die tronk gebore is, om te sien.

“In Kelly se geval sal dit ook bepaal word deur die kriminele aanklagte teen haar.”

Wie kyk nou na Joshlin se broers en susters?

Joshlin se twee broers en susters, haar broer van tien en driejarige suster, is tans in die sorg van familielede.

“Die oorblywende kinders is by familie onder die wakende oog van maatskaplike werkers. Daar is geen rede om hulle [kinders] van hul familie weg te neem nie. Die gesin word nie as hoë risiko gesien nie,” het Nomafrench Mbombo, waarnemende LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling, aan IOL gesê.

Landdros Yolisa Sikhoyo het die saak van Kelly, Appollis en Van Rhyn tot 13 Mei uitgestel vir verdere ondersoeke, berig The Citizen.

Die vierde verdagte, Lourentia (Renz) Lombaard, wat Vrydag (15/3) in hegtenis geneem is, sal Maandag (25/3) vir haar borgtogverhoor verskyn.

Volgens Jacques van Zyl, staatsaanklaer, het sy voor haar inhegtenisneming ’n bekentenis gemaak, maar geen verdere besonderhede van wat beken is, is verskaf nie. 

Kelly, haar kêrel Jacquin (Boeta) Appollis, goeie vriend Steveno van Rhyn en haar Middelpos-buurvrou Lourentia “Renz” Lombaard is van mensehandel en ontvoering aangekla.

Die 33-jarige ma van drie het Joshlin op 19 Februarie in die sorg van Appollis gelos toe sy gaan werk het. Met haar terugkeer ná werk omstreeks 17:00, was Joshlin vermis. Appollis het destyds enige betrokkenheid by haar verdwyning ontken en beweer die laaste keer wat hy haar gesien het, was toe sy buite gaan speel het. 

Ten spyte van 'n uitgebreide soektog langs die Weskus is die Laerskool Diazville-graadeentjie nie gevind nie.

Sr. adv. Aradhana Heeramun, wat vroeër vandeesmaand vir die staat in die Vredenburg-landdroshof verskyn het, het beweer Kelly het Appollis en Van Rhyn opdrag gegee om Joshlin vir R20 000 vir muti aan 'n ander Middelpos-man te verkoop.

Die twee mans het glo dié koue bekentenis gemaak ná ’n 36 uur lange ondervraging by Saldanha-polisiekantoor.

Ná die aanranding is Kelly glo in 'n enkelsel geplaas met slegs senior bewaarders wat toegang tot haar het.

Die polisie wag glo nog vir die resultate van die DNS-ontleding van bloedbevlekte klere, ’n mes en laken wat op 2 Maart in ’n veld sowat ’n kilometer van Joshlin se huis af gevind is.

Die soektog na Joshlin duur steeds voort, met ’n beloning van R250 000 wat aangebied word vir enige inligting wat die polisie kan help om die vermiste meisie op te spoor.

Enigiemand met inligting oor haar kan Crime Stop anoniem kontak by 08600 10111, of SMS Crime Line by 32211.

OFM Nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.