On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Potchefstroom-man voltooi fietstoer vir dierewelsyn binne sewe dae

───   KAREN VAN DER BERG 12:05 Mon, 25 Mar 2024

Potchefstroom-man voltooi fietstoer vir dierewelsyn binne sewe dae | News Article
Shaun Leach (40), eienaar van Le Tour Cycles in Potchefstroom, wat Saterdag (23/3) ’n fietstoer van 1600 km per fiets van Vanderbijlpark tot in Bloubergstrand in slegs sewe dae voltooi het. Foto verskaf

“Maar ek weet nou, op die einde het dit meer vir my beteken as vir enige organisasie.”

Hy was so hittete in trane toe hy Tafelberg in die verte sien en dit tot hom deurdring hoe baie mense omgee en ander ondersteun.

So sê Shaun Leach (40), eienaar van Le Tour Cycles in Potchefstroom, wat Saterdag (23/3) ’n fietstoer van 1 600 km van Vanderbijlpark tot Bloubergstrand in slegs sewe dae voltooi het om geld en skenkings vir die dierewelsynsorganisasie PAWS in te samel. Die toer het op 16 Maart begin.

“Ek was amper in trane toe die besef my tref dat mense steeds so baie vir mekaar omgee. Die medemenslikheid wat ek langs die pad beleef het, gee ’n mens weer hoop vir die land.”

Shaun Leach het Saterdag ná 1 600 km per fiets in Bloubergstrand aangekom. Foto verskaf

Leach vertel die fietstoer het goed afgeloop. Die eerste helfte van die toer is gekenmerk deur ’n verskriklike hittegolf, veral in die Karoo. Sy water het opgeraak en hy het te min kos ingepak. Later het dit beter gegaan. In die omgewing van Ceres het die wind hom amper weggewaai, maar hy het volhard en voltooi.

“Ek ervaar wel verskillende emosies noudat ek klaar is. Dit is aan die een kant jammer al die voorbereiding en opwinding is net so verby, maar ek is ook dankbaar ek is veilig.”

Hy sê sommige dae het hy gewonder hoekom hy dit doen. “Maar ek weet nou, op die einde het dit meer vir my beteken as vir enige organisasie.”

Shaun Leach het in slegs sewe dae van Vanderbijlpark tot in Bloubergstrand met sy fiets gery. Foto verskaf

Hy hoop die verskil wat hy in diere se lewe gemaak het, is groot en open ook deure vir ander mense wat so iets wil doen.

Een van die redes waarom hy besluit het om geld vir PAWS in te samel, is om vir die organisasies dankie te sê vir die wonderlike werk wat hulle doen. “Ek is regtig bevoorreg en geseën dat ek dit kon doen.” 

Hy meen Suid-Afrikaners is “fantastiese mense” en het baie om te bied. Dit gee hom hoop vir die toekoms.

Vir eers, sê Leach, gaan hy ’n paar dae rus. En wie weet watter planne hy gaan uitdink om dalk later weer ’n projek aan te pak.

OFM Nuus/Karen van der Berg cg


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.