On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Gerben
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret, John and Nadine
Listen Live Streams

Central SA

Dierehawe op Stilfontein trek noustrop – eienaar moet selfs motor verkoop

───   HEIDRÈ MALGAS 12:16 Tue, 26 Mar 2024

Dierehawe op Stilfontein trek noustrop – eienaar moet selfs motor verkoop | News Article
Suzette Kotzé, mede-eienaar en inspekteur van die skuiling op Stilfontein. Foto verskaf

“Ons plaaslike gemeenskap is arm weens al die myne wat gesluit het, en ons bedien omtrent tien dorpe.”

Die Matlosana-Stilfontein-diereskuiling het dringend geld nodig om voort te gaan met die versorging van diere wat gered is.

Suzette Kotzé, mede-eienaar en inspekteur van die skuiling, moes haar motor verkoop om dit aan die gang te hou. Hulle het geld nodig vir veeartsonkoste, diesel, salarisse, munisipale rekeninge, instandhouding, komberse, hokke en uniforms.

“Ons het permanente borgskappe vir kos,” sê sy. Hulle hou al agt jaar lank aanlyn geldinsamelings, maar vanjaar het die ekonomie almal geknou. “Ons het ’n borg-’n-dier-projek, asook ’n liefdadigheidswinkel waar mense goedere kan skenk om te verkoop. Ons doen ook aanlyn lootjies, en vir elke skenking kan ons ’n belastingsertifikaat uitreik.” 

Die dierehawe op Stilfontein kort dringend geld. Foto: Facebook

Die skuiling sien om na 168 honde, 66 katte, drie donkies, vier perde, vier bokke, nege hoenders en vier poue. “Ons plaaslike gemeenskap is arm weens al die myne wat gesluit het, en ons bedien omtrent tien dorpe. Tot dusver is die reaksie op sosiale media bevredigend,” sê Kotzé.

Hulle is ’n prolewe-organisasie en geen diere sal na ander skuilings oorgeplaas word wat moontlik anders dink nie. “Ongelukkig kan geen skuiling langtermynplanne implementeer nie, al probeer ons hoe hard.” Maar: “Niemand het geld nie, en ons is in ’n klein dorpie, hoewel ons een van die grootste skuilings in die land is.”

Enigeen kan help deur boumateriaal, uniforms vir personeel of komberse te skenk of direk geld by hul veearts in te betaal. Besoek hul Facebook-blad of hul webtuiste vir nog inligting.

OFM Nuus/Heidrè Malgas

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.