On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Gerben
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret, John and Nadine
Listen Live Streams

Central SA

Groot nuwe brulpadda-spesie in Afrika ontdek

───   HEIDRÈ MALGAS 08:13 Wed, 27 Mar 2024

Groot nuwe brulpadda-spesie in Afrika ontdek | News Article
Die nuwe Afrika-brulpadda Pyxicephalus beytelli. Foto verskaf

“Dit het byna 10 jaar geduur om hom te soek en te bestudeer.”

’n Nuwe Afrika-brulpadda, Pyxicephalus beytelli, die grootste nuwe spesie in meer as ’n eeu, is in verskeie Afrikalande ontdek. Navorsers uit Suid-Afrika het die padda geïdentifiseer in Namibië, Angola, Zambië en Botswana.

Prof. Louis Du Preez, dierkundige aan die Noordwes-Universiteit, sê dit is die grootste padda wat in ’n 100 jaar wêreldwyd ontdek is. “Wat dit so besonders maak, is dat dit so ’n groot padda is en dat hy onder die radar gebly het sodat mense hom nie raakgesien het nie.

“Deesdae, as mense nuwe paddas vind, is dit kriptiese spesies wat baie lyk soos ander bekende paddas en moeilik is om te onderskei,” sê Du Preez.

Prof. Louis Du Preez. Foto: Noordwes-Universiteit 

Hulle het die padda sowat 12 jaar gelede vir die eerste keer in die Okavangodelta in Botswana se gesien. Een van sy studente het die padda vir hom gewys en besef dat die padda anders lyk. Dit het byna 10 jaar geduur om hom te soek en te bestudeer.

“Die terrein waar ons na die spesie gesoek het, was ru, meer as 250 km van die naaste dorp of mediese hulp.”

Hy sê op die terrein moes hulle baie versigtig wees want daar baie wilde diere en giftige slange.

‘Hulle broei een of twee keer ’n jaar’

“Daar is nog baie wat ons nie weet van hierdie padda nie. Ek wil graag ’n broeigeleentheid vir die paddas sien,” vertel hy. Die paddas broei een of twee keer ’n jaar en ook net vir een dag.

Die Pyxicephalus beytelli is heldergeel en lemmetjiegroen met blou kolle en ’n wit vertebrale streep teen sy lyf af. Hy spog ook met prominente, teruggekromde tande en twee uitsteeksels op sy onderkaak.

Die Pyxicephalus beytelli het teruggekromde tande. Foto: twitter.com

Die padda is genoem na wyle Ben Beytell, direkteur van parke en natuurlewebestuur in Namibië, wat ’n belangrike rol gespeel het in die proklamering van die Nasionale Khaudum-park in Namibië, waar die brulpaddaspesie voorkom.

OFM Nuus/HeidrèMalgas dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.