On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Laurika
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Noordwes spog met derde plek in nasionale baan-en-veldbyeenkoms vir laerskole

───   10:22 Thu, 28 Mar 2024

Noordwes spog met derde plek in nasionale baan-en-veldbyeenkoms vir laerskole | News Article
Die atlete is baie trots op hul prestasies. Foto verskaf

“Die provinsie het ’n algehele bronsmedalje ontvang nadat atlete altesaam 29 medaljes verwerf het: elf goud, sewe silwer en elf brons.”

Noordwes se Departement van Onderwys is ingenome met dié provinsie se derde plek in die Nasionale Laerskolebaan-en-veldbyeenkoms, wat van 25 tot 27 Maart in die Oscar Mpetha-stadion in Polokwane, Limpopo, plaasgevind het.

Die provinsie het ’n algehele bronsmedalje ontvang nadat atlete altesaam 29 medaljes verwerf het: elf goud, sewe silwer en elf brons.

Die Noordwes-span spog met altesame 29 medaljes. Foto verskaf

Die tienjarige Ryan Beets van die Laerskool Saamtrek in Klerksdorp het ’n nuwe nasionale o.10-rekord in gewigstoot vir seuns opgestel met ’n afstand van 12,47 m en so Z. Pretorius se jaar ouer rekord van 11,93 m verpletter, sê Mphata Molokwane, onderwyswoordvoerder.

Viola Motsumi, LUR vir onderwys, het die Noordwes-span gelukgewens en sê sy is uiters trots op die leerders se prestasie. Hul derde plek wys hulle tel onder die beste in die land. 

Molokwane het aan OFM Nuus gesê dat die tienjarige Kylie van der Walt van die Laerskool Vastrap in Rustenburg een van die vier beste atlete in 80 m en 100 m geword het nadat sy goud in albei nommers losgehardloop het.

Die Noordwes-span het ook ’n bronsmedalje gekry vir hul algehele derde plek. Foto verskaf

“Ek wil die onderwysers, afrigtingspersoneel, amptenare en ouers bedank wat hierdie leerders ondersteun het,” sê Motsumi. “Hulle gaan verseker ons land in die toekoms verteenwoordig; ons moet hulle talent koester en ontwikkel.”

Molokwane sê van 3 tot 6 April neem hoërskoolatlete van Noordwes en die ander agt provinsies in Kaapstad deel aan die Nasionale Sekondêre Baan-en-veldbyeenkoms.

OFM Nuus/Joba Matsheng dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.