Central SA
Planne ondersoek vir gebruik van Welkom se ‘spookhospitaal’─── HEIDRÈ MALGAS 11:57 Fri, 05 Apr 2024
“Die departement het assesserings gedoen om die toestand van die ongebruikte dele van die gebou te evalueer en moontlike planne daarvoor te ondersoek.”
Die verlate Kopano- provinsiale hospitaal in Welkom is al jare lank ’n wit olifant. Op sosiale media word beweer dit spook daar en ander kla oor die haglike toestand van die gebou.
Phoenix Paranormal South Africa het in Augustus 2015 op Facebook dit beskryf as die verwaarloosde gebou wat stil in die grys lig van die ondergaande son staan en sê: “Die hospitaalgebou is al jare lank verlate, maar dit is nie leeg nie, glo baie inwoners.”

Dit is al wat oor is van die hospitaal se kombuis. Foto: Facebook
Afgesien van die gevare wat ’n verlate gebou vir mense inhou, is daar oral mediese afval insluitend handskoene en deppers in die pakkamers en gange. Lêers van pasiënte van 2008, rybewyse en dokumentasie van orgaanskenkers lê op die vloer.
Mense wil weet wat is die plan vir die gebou wat al solank leegstaan. Dit word besit deur die Vrystaatse provinsiale regering, spesifiek die Departement van Openbare Werke, sê Mondli Mvambi, woordvoerder van die Departement van Gesondheid.

Daar word beweer spoke dwaal in die gange rond. Foto: Facebook
Mlungisi Maqubela, woordvoerder van die provinsiale Departement van Openbare Werke, sê daar is planne vir die ongebruikte dele van die gebou. Verskeie dele van die gebou word beset deur die Inspektoraat Openbare Werke, die Departement van Sport, Kuns en Kultuur, die Departement van Gemeenskapsveiligheid, Paaie en Vervoer, en ’n nieregeringsorganisasie wat betrokke is by MIV/vigs.
“Die departement het assesserings gedoen om die toestand van die ongebruikte dele van die gebou te evalueer en moontlike planne daarvoor te ondersoek,” sê hy. Die bevindinge is aan die departement voorgelê en enige besluite sal deur die departementshoofde en LUR'e geneem word.

Die mure is gevandaliseer. Foto: Facebook
Een van die projekte wat uit die assessering voortgespruit het, is moontlike studenteverblyf vir die Sentrale Universiteit vir Tegnologie in Welkom. Op sosiale media word bespiegel of die gebou veilig is vir besoekers.
Phoenix Paranormal South Africa het voorheen bevind rolstoele begin op hul eie beweeg. Papiere wat terugdateer na 1996 lê in die ontvangsarea gestrooi en gebruikte kondome kan in die hoofingang gevind word. Coolstorybru sê op Instagram die gebou is ideaal vir bekostigbare behuising.
OFM Nuus/Heidrè Malgas dg
