Central SA
Gebreide poppies bring hoop vir kankerlyers in Potchefstroom─── KAREN VAN DER BERG 15:15 Fri, 05 Apr 2024
“Die poppies is my lewe. Ek geniet dit so. En die mense geniet dit so.”
Om iets vir haar medemens te doen, is vir haar baie belangrik. Daarom brei tannie Christa Cloete (75) van Potchefstroom elke dag vir die afgelope sewe jaar, ’n poppie om vir kankerpasiëte te gee.
Elke poppie brei sy volgens ’n patroon. Elkeen ’n ander kleur en met ’n ander persoonlikheid. “Die poppies gee ek om mense te troos. Dit is iets wat hulle kan koester en vashou en weet dat iemand aan hulle dink.”

Tannie Christa Cloete saam met een van die poppies wat sy gebrei het. Foto: Cornelia Hitge, Potchefstroom Herald
Tannie Christa het vir 40 jaar lank by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus gewerk en bly al 52 jaar in Potchefstroom. Sy het reeds ’n duisend poppies gebrei en het nou met haar tweede groep van ’n duisend poppies begin.

Elke poppie van tannie Christa Cloete word met liefde gebrei. Foto verskaf
“My boetie is in 2018 aan kanker oorlede. Hy het so swaar gekry en dit het my diep aangeraak. Ek het besef ek kan dalk deur ’n klein gebaar, iets vir ander mense beteken.” Tannie Christa sê chemoterapie takel mense af en veroorsaak soveel pyn. “Kanker is net aaklig, veral wanneer kinders dit kry.”
Sy sê dit neem haar gewoonlik een dag om ’n poppie te brei. Sy koop ook die wol self en soms kry sy ook skenkings. Die poppies word versprei na verskillende onkologieafdelings. Tannie Christa kry ook gereeld terugvoer van mense wat poppies ontvang het. Dit is vir haar baie lekker.

Elke poppie het ’n persoonlikheid, Foto verskaf
“Die poppies is my lewe. Ek geniet dit so. En die mense geniet dit so. Ek kry soveel oproepe van mense wat sê wat dit vir hulle beteken. Dit maak my hart bly.”
Sy hoop om nou die volgende duisend poppies te brei en sal nooit ophou om mense met kanker by te staan nie. “Terwyl my hande werk, doen ek dit met die grootste liefde.”
OFM Nuus/ Karen van der Berg dg
