On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Waterkrisis: Sol Plaatje se ingryping goed op dreef – VIDEO

───   07:53 Sun, 07 Apr 2024

Waterkrisis: Sol Plaatje se ingryping goed op dreef – VIDEO | News Article
’n Klep moet in Camelliastraat in Roodepan geïnstalleer word. Foto verskaf

“Herstel aan waterinfrastruktuur vorder goed ten spyte van die reën.”

Die Sol Plaatje Munisipaliteit het aangekondig dat opknappingswerk om vier groot lekkasies aan waterpype te herstel goed vorder, ten spyte van die reën.


Om dié vordering verder momentum te gee, het ’n span van tien ingenieurs van Ekapa Mining aangesluit by die herstel- en opknappingswerk by die nuwe Riverton-watersuiweringsaanleg.

Midstation se kruisverbindingsklep is geïnstalleer en sweiswerk is voltooi. Foto verskaf

Die Sol Plaatje Munisipaliteit se kommunikasiebestuurder, Thabo Mothibi, het Ekapa Mining se aandeel beklemtoon. Jahn Hohne, uitvoerende hoof van dié mynmaatskappy, het hul betrokkenheid verduidelik.


Mothibi het Sondagoggend bevestig dat alle bedrywighede tot dusver glad verloop ten spyte van die reën.


Die munisipaliteit het inwoners vroeër ingelig dat daar van Donderdag (4/4) om 18:00 tot Maandag (8/4) om 18:00 ’n wateronderbreking gaan wees om vier groot lekkasies in die pypleiding van Riverton na Kimberley te herstel.

Sweiswerk in Soul City, Galeshewe, is voltooi. Foto verskaf

Dit het aansienlike waterverliese op die munisipaliteit se hoofwatertoevoerpypleiding van Riverton na Kimberley veroorsaak. Die doelwit is om die nagtelike watertoevoeronderbrekings te beëindig.

Die algehele doel van die projek, waarvoor R2,5 miljard oor die volgende sewe jaar deur die Nasionale Tesourie bewillig is, is om probleme met die instandhouding van die Noord-Kaap se waterskaffingsinfrastruktuur op te los.

Dit kom ná die minister van Water en Sanitasie, Senzo Mchunu, se roetine-inspeksie en interaksie met die munisipaliteit, waartydens swak bestuur en instandhouding van water- en sanitasie-infrastruktuur geïdentifiseer is, wat tot rioolstortings, waterlekkasies en -onderbrekings in Sol Plaatje lei. 

Mchunu en die Noord-Kaapse premier, Zamani Saul, het Donderdag 27 Julie 2023 met die Sol Plaatje Plaaslike Munisipaliteit in Kimberley vergader en ’n komitee gestig om uitdagings van water en sanitasie in die Diamantstad te hanteer. Dit kom ná beraadslaging met die munisipaliteit, wat sy uitdagings met betrekking tot grootmaatwatervoorsiening en -netwerk aan gemeenskappe uiteengesit het.

OFM Nuus cg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.