On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Geliefde dominee van Bloemfontein word Donderdag ter ruste gelê

───   10:01 Wed, 10 Apr 2024

Geliefde dominee van Bloemfontein word Donderdag ter ruste gelê | News Article
Fanie Spamer. Foto Lig Gemeente

“Ons gaan hom verskriklik mis, maar hy leef voort in ons harte.”

’n Geliefde predikant van Bloemfontein word Donderdag (11/4) op Reddersburg ter ruste gelê.

Ds. Fanie Spamer (63) se dood Saterdag (6/4) laat ’n leemte in die hart van diegene wat hom geken het, maar sy nagedagtenis sal vir altyd gekoester word. Volgens Lig Gemeente (voorheen NGK Gardeniapark) het Spamer sy lewe daaraan gewy om die Here te dien.

Ds. Jan Venter van die Lig Gemeente sê Spamer se reis in die bediening het as jong predikant saam met ds. Boshoff by die NG Gemeente Gardeniapark begin. “Deur die jare het hy getrou gedien en tyd in Hartenbos deurgebring voordat hy teruggekeer het na Gardeniapark, waar hy sowat 18 jaar van sy lewe gewy het.”

‘Hy leef voort in ons hart’

Op die NG Kerk Reddersburg se Facebook-blad word gesê: “Ds. Fanie het met sy breë glimlag en omgeehart diep spore in ons gemeente getrap. Ons gaan hom verskriklik mis, maar hy leef voort in ons hart.” 

Spamer se bediening het in 1989 begin in Gardeniapark, wat toe bekendgestaan het as Wilgehof-Wes. Van 1995 tot 1997 was hy medeleraar van die NG Gemeente Hartenbos aan die Suid-Kaapse kus, maar hy was gou-gou terug in die Vrystaat toe hy weer verbonde was aan Gardeniapark, tot 2008. Sy laaste werkkring, tot hy sy emeritaat in 2021 aanvaar het, was Heuwelsig.

Hy het op Dinsdag (2/4), tydens ’n huisbesoek naby Reddersburg, ’n beroerte gehad. Hy is Saterdag breindood verklaar. Een van sy wense was dat sy organe geskenk moet word. Hy en sy vrou, Annareth, was 38 jaar getroud en het twee kinders, Stefan en Anel. Sy driejarige kleinseun, Eben, was sy oogappel.

Die begrafnis om 11:00 in die NG Kerk Reddersburg sal ook regstreeks gestroom word.

OFM Nuus/Charné van der Merwe dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.