Central SA
Man van Hennenman se selfdood weens slangbyte maak wyd opslae─── KAREN VAN DER BERG 14:15 Wed, 10 Apr 2024

“Joubert was in hand- en voetboeie, maar by sy huis is sy hande losgemaak sodat die uitwysings gedoen kon word.”
“Dit is nie verbasend dat die storie soveel reaksie uitlok nie, omdat dit so ongewoon is. Maar dit bly ’n baie tragiese geval.”
So sê Johan Marais, uitvoerende hoof van die African Snakebite Institute, oor die bisarre selfdood van ’n jong man van Hennenman in die Vrystaat, Marius Joubert (28), wat hom deur verskeie gifslange laat pik het. Hy het mediese hulp geweier en is dood.
Joubert het tydens die Paasnaweek sy eie lewe geneem toe hy sy hande in twee slanghokke gedruk het. Die voorval het intussen wye reaksie uitgelok en het sosiale media aan die gons.
‘Dit was ’n tragiese geval en dit is jammer dit maak soveel opslae’
Marais sê tussen sowat 20 000 en 30 000 mense in Suid-Afrika hou slange aan. “Maar dit was ’n tragiese geval en dit is jammer dit maak soveel opslae, omdat dit dalk nie die werklikheid weerspieël nie.”
Hy sê indien dit ’n Chinese kobra was wat vir Joubert gebyt het, soos wat verskeie bronne berig het, is dit ’n hoogs giftige slang. Die slang het sito- én neurotoksiese gif wat baie vinnig sy asemhaling sou beïnvloed.
Joubert het vir ’n veiligheidsmaatskappy op Hennenman gewerk. Die polisie het hom einde Maart in hegtenis geneem in verband met ’n inbraak en diefstal wat in Julie verlede jaar plaasgevind het.
Joubert se opspraakwekkende dood maak wêreldwyd opslae. Skermgreep: Daily Mirror
Volgens kapt. Stephen Thakeng, Vrystaatse polisiewoordvoerder, was Joubert in aanhouding. Hy het vir die ondersoekbeampte gesê hy sal vir die polisie die gesteelde goedere in sy huis gaan uitwys. Die polisie het hom op 29 Maart na sy huis geneem.
Joubert was in hand- en voetboeie, maar by sy huis is sy hande losgemaak, sodat die uitwysings gedoen kon word. Hy het onverwags sy hande in twee slanghokke gedruk. Van die slange wat hy aangehou het, was boskobras, groenmambas en ’n uitheemse koperkopadder.
“Hy het ook enige behandeling eers geweier. Maar ’n ambulans het hom opgetel en na die Katleho-hospitaal geneem,” het Thakeng gesê. Hy is later na die Bongani-hospitaal in Welkom oorgeplaas, waar hy beswyk het.
‘Die tonele wat ons daar gesien het, was baie erg’
Ná sy dood is die Dierebeskermingsvereniging (DBV) van Bloemfontein ontbied. Al die diere wat in Joubert se huis gevind is, is intussen verwyder en na ’n natuurlewehospitaal in Johannesburg geneem.
Reinet Meyer, senior inspekteur van die DBV in Bloemfontein, sê hulle het meer as 70 verwaarloosde wilde diere in ’n bedenklike toestand in sy huis gevind. “Die tonele wat ons daar gesien het, was baie erg.
“Geen dier verdien om so aangehou te word nie.” Sy sê die meeste diere was onwettig aangehoude inheemse en uitheemse diere waarvoor ’n mens permitte nodig het.
Sowat 70 eksotiese diere is in haglike omstandighede in Joubert se huis aangehou. Foto verskaf
Die diere is deur gesamentlike reddingspogings van die DBV’s in Bloemfontein en op Virginia verwyder. ’n Johannesburgse kliniek en rehabilitasiesentrum vir wilde diere het ook gehelp. Twee slangvangers van Bloemfontein was betrokke. Die diere is verwyder, ondersoek en behandel. Hulle hoop om die diere binnekort in hul natuurlike habitatte vry te laat.
“Daar is baie spesifieke reëls en regulasies oor die omstandighede waaronder hierdie diere aangehou mag word,” sê Meyer.