Central SA
Kommer oor die groot getal meisies wat in Suid-Afrika ontvoer word─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:50 Thu, 11 Apr 2024

“In die Vrystaat is ongeveer 84 gevalle van ontvoering van meisies onder 17 tussen 2015 en 2020 aangemeld, met die hoogste getal tussen 2018 en 2019.”
Luidens ’n verslag deur Statistieke Suid-Afrika (SSA) vir die tydperk van 2015 tot 2020 is die situasie wat die ontvoering van meisies betref kommerwekkend. Data van 2019 tot 2020 dui daarop dat meisies van 17 jaar en jonger die grootste groep slagoffers van verskeie misdade soos mishandeling, verkragting, seksuele aanranding en roof is.
Ontvoering, wat dikwels met mensehandel gepaardgaan en behels dat iemand teen sy/haar wil weggeneem word, gevolg deur eise vir ’n losprys of uitbuiting vir verskeie doeleindes, hou ook ’n wesenlike bedreiging vir hierdie kwesbare individue in.
“Ten spyte van die erns van hierdie misdade, is ontvoering en mensehandel steeds onder die misdade wat die minste in Suid-Afrika aangemeld word,” sê SSA.
‘Dit beklemtoon ’n dringende behoefte aan doelgerigte ingrypings’
’n Nadere ontleding van die data dui op die volgende streeksverskille:
In die Vrystaat is ongeveer 84 gevalle van ontvoering van meisies onder 17 tussen 2015 en 2020 aangemeld, met die meeste gevalle tussen 2018 en 2019. In die Noord-Kaap is altesaam 19 gevalle aangemeld.
In Noordwes is ’n kommerwekkende 78 gevalle in 2017 aangemeld en 38 in 2018. Intussen het Gauteng, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap die meeste gevalle oor dié vyfjaartydperk aangemeld, wat daarop dui hoe wydverspreid hierdie misdade landwyd voorkom.
Volgens SSA staan die Wes-Kaap egter uit met die hoogste syfer van ontvoerings. Dit beklemtoon die dringende behoefte aan geteikende ingrypings in daardie streek. Op ’n positiewe noot het Noordwes ’n afname in ontvoeringsake beleef te danke aan gesamentlike pogings wat goeie resultate gelewer het.
OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh/mc