Central SA
Kimberley-waterinfrastruktuur: ‘Herstelwerk hou langdurige voordele in’ – VIDEO─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:22 Thu, 11 Apr 2024
“Uitdagings word ervaar met die verspreiding van water na alle gebiede weens onvoldoende water by die Newton-opgaardam.”
Probleme weens die onaktiewe pompe by die Newton-opgaardam en ander struikelblokke in Kimberley duur voort.
Die stad het die watertoevoer van Donderdag (4/4) tot Maandag (8/4) toegedraai vir herstelwerk aan die stelsel, maar sommige gebiede sukkel steeds met onvoldoende watertoevoer.
Hulle sou die nodige werk durende die waterafsluiting voltooi het, het Thapelo Matlala, munisipale bestuurder, Donderdagoggend gesê, maar het uitdagings ervaar met die verspreiding van water na alle gebiede. Dit is glo weens onvoldoende water by die Newton-opgaardam.
Matlala het genoem dat hulle pyplekkasies herstel het, veral by Riverton, en het vir die eerste keer in ses maande byna 105 megaliter bereik.
Die voordele sal egter eers ervaar word wanneer die pyplyndruk herstel is en die Newton-opgaardam gevul is. Hy besef die gemeenskap is gefrustreerd, maar beklemtoon die langtermynvoordele vir Kimberley se waterinfrastruktuur ná die herstelwerk.
