On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Sersant in hof nadat sy glo vriendin se moorddossier wou laat ‘verdwyn’

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:53 Thu, 11 Apr 2024

Sersant in hof nadat sy glo vriendin se moorddossier wou laat ‘verdwyn’  | News Article
Foto ter illustrasie

“Sy het glo verlede Donderdag ’n gewese reservis na die polisiekantoor ontbied en hom opdrag gegee om ’n sak te neem, maar dit nie oop te maak nie.”

’n Polisiesersant van Hartbeesfontein moet weer einde Mei in die hof wees nadat sy glo ’n vriendin se moorddossier wou laat “verdwyn” het.

Ina van der Westhuizen (43) is Dinsdag (9/4) in hegtenis geneem en Woensdag borgtog van R2 000 in die plaaslike landdroshof toegestaan. Haar volgende hofverskyning is op Dinsdag 28 Mei.


Sy het glo verlede Donderdag (4/4) ’n gewese reservis na die polisiekantoor ontbied en hom opdrag gegee om ’n sak te neem, maar om dit nie oop te maak nie, sê brig. Sabata Mokgwabone, Noordwes-polisiewoordvoerder.

Die reservis het egter snuf in die neus gekry, die sak oopgemaak en in die sak op die moorddossier afgekom, waarna hy die voorval die volgende dag by die speurtakbevelvoerder aangemeld het.

’Die provinsiale teenkorrupsie-ondersoekeenheid (ACIU) het dit ondersoek’

Die saak is toe deur die provinsiale teenkorrupsie-ondersoekeenheid (ACIU) ondersoek, wat tot Van der Westhuizen se inhegtenisneming gelei het. Lt.maj. Sello Kwena, provinsiale polisiekommissaris, het die ACIU en Hartbeesfontein-polisie geloof vir hul vinnige optrede om die beskuldigde aan die kaak te stel.

Hy het die polisie se onverdraagsaamheid teenoor korrupte werknemers beklemtoon en gesê Van der Westhuizen sal ook departementeel ondersoek word.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg/mc

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.