Central SA
Vrystaters word na bewering met wapensindikaat verbind─── ZENANDE MPAME 12:42 Fri, 12 Apr 2024
“Die beskuldigdes is vermoedelik verskaffers van ammunisie aan mense in besit van ongelisensieerde vuurwapens.”
Twee mans van die Vrystaat wat glo betrokke is by ’n vuurwapensindikaat sal op 24 April in die landdroshof op Virginia verskyn op aanklagte van die onwettige besit van ammunisie en onwettige handel in ammunisie.
Siyabulela Makaleni (40) en Patrick Pitso (32) word daarvan verdink dat hulle vuurwapens verskaf aan onwettige mynwerkers op die Vrystaatse Goudveld. Die dagvaardings is onderskeidelik op 22 Februarie en 14 Maart aan hulle beteken.
“Die polisie in Virginia het die twee in hegtenis geneem nadat hulle inligting ontvang het dat hulle ’n verskeidenheid ammunisie het en op soek was na ’n koper in Meloding,” sê Fikiswa Matoti, Vrystaatse Valkewoordvoerder.

Siyabulela Makaleni (40) Foto: Valke
“Die beskuldigdes is vermoedelik verskaffers van ammunisie aan mense wat ongelisensieerde vuurwapens besit, veral aan onwettige mynwerkers. Daar is ook beslag gelê op ammunisie.”
Katiso Leputla (43) moet Maandag 6 Mei weer in die hof verskyn op aanklag van die onwettige besit van vuurwapens. Die polisie vermoed die vuurwapens is in ’n gewapende rooftog gebruik.
Leputla is in Augustus 2018 in hegtenis geneem toe die polisie in Bloemfontein vuurwapens ontdek het in ’n wit BMW X5 wat hy bestuur het. Die vuurwapens het ’n R5-geweer, ’n pistool en geweermagasyne en R10 000 kontant ingesluit. Hy is tans uit op borgtog.
“Leputla is in hegtenis geneem kort ná ’n transitorooftog in Bloemfontein en hy het ’n voertuig sonder enige nommerplate bestuur,” sê Christopher Singo, Vrystaatse Valkewoordvoerder.
Volgens OFM Nuus se vorige berigte het die transitorooftog op 8 Augustus plaasgevind.

