On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Kimberley waterkrisis: Herstel van watertoevoer vertraag

───   ZENANDE MPAME 10:48 Sun, 14 Apr 2024

Kimberley waterkrisis: Herstel van watertoevoer vertraag  | News Article
Tonele by die Gogga-pompstasie Sondagoggend. Foto: Verskaf

“Vertraging in die herstel van toevoer kan ervaar word, en ons sal inwoners van ’n opdatering voorsien.”

Die Gogga-pompstasie in die Sol Plaatje-munisipaliteit in die Noord-Kaap word tans herstel ná skade wat inwoners reeds dae lank sonder water los. 

Sweiswerk is Sondag (14/4) voltooi aan ’n plaat oor die buitekant van die ou spoelpyp wat van die hooflyn afgesny is. Weens swaar reën in Kimberley die vorige aand sou die tegniese span eers Sondagoggend die pyplyn, wat strek van Riverton tot Kimberley, kon inspekteer voordat hulle met die vul van die lyn begin.

Munisipale woordvoerder Thabo Mothibi het erken dat inwoners ’n vertraging in die herstel van die watertoevoer kan ervaar. “Ons sal inwoners op hoogte hou,” het hy verseker.

Watertenkwaens word tans ingespan om te verseker dat gebiede met uitgeputte watertoevoer, asook JoJos wat leeg hardloop, hervul word. Luidens berigte deur die DFA is dit nou die tiende dag van wat aanvanklik beplan was as ’n vier dag lange waterafsluiting. 

“Sodra die herstelwerk voltooi is, sal pompe teen volle kapasiteit vanaf die Riverton-rioolwaterbehandelingswerke hervat word,” het Mothibi gesê.

Sweiswerk by die Gogga-pompstasie in die Sol Plaatje-munisipaliteit is Sondag voltooi. Foto: Verskaf.

Bigen Africa se konsultasie-ingenieur dr. Mias van der Walt het voorspel dat water teen Sondagaand (14/4) na Galeshewe en sekere laerliggende gebiede in die stad herstel kan word. Van der Walt is Vrydag (12/4) deur munisipale bestuurder Thapelo Matlala gevra om te help met die waterkrisis.

“Ons bedank inwoners vir hulle geduld en vra om verskoning vir die ongerief veroorsaak deur die vertragings in die herstelwerk,” het Matlala gesê.

Inwoners wat wateronderbrekings ervaar, word versoek om die munisipale oproepsentrum te kontak op die gratis nommer 0801 229 010 of 053 832 4211 vir bystand.

OFM News/Zenande Mpame

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.