Central SA
Man lank tronk toe ná verkragting van Bothaville-meisie─── HEIDRÈ MALGAS 12:23 Wed, 24 Apr 2024
“Hy is aangekeer danksy DNS-bewyse en is van verkragting aangekla.”
’n Man van die Vrystaat is Maandag (22/4) tot 20 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy ’n 15-jarige meisie van Bothaville seksueel aangerand het, terwyl sy in haar ouerhuis gebad het.
Die voorval het die middag van 3 September verlede jaar gebeur nadat Thabang Mike Moeketsi (20) toegang tot die badkamer verkry en gedreig het hy sou haar seermaak as sy nie saamwerk nie, sê Stephan Thakeng, Vrystaatse polisiewoordvoerder. Ná die aanval het Moeketsi hom vinnig uit die voete gemaak.
‘Hy is aangekeer danksy DNS-bewyse’
Speursers. Lehlohonolo Fonya van Welkom se eenheid vir gesinsgeweld, kindersbeskerming en seksuele misdrywe is as ondersoekbeampte in die saak aangestel. Hy is aangekeer danksy DNS-bewyse en is van verkragting aangekla. Hy is ook skuldig bevind aan verkragting van ’n 42-jarige vrou in Junie verlede jaar. Hiervoor is hy ook tot 20 jaar tronkstraf gevonnis.
In ’n afsonderlike voorval het OFM Nuus ook berig dat ’n Bloemfonteinse godsdienstige leier tot twaalf jaar tronkstraf gevonnis is vir die verkragting van ’n polisievrou van die Parkweg-polisiekantoor.
Moshebelele Michael Lebajoa (52) is op Woensdag 13 Desember in die Bloemfonteinse landdroshof gevonnis, ’n paar weke nadat hy op 1 November skuldig bevind is. Die saak het vyf jaar voortgesleep sedert sy inhegtenisneming op 10 Desember 2018.
OFM Nuus dg