On Now
Weekends 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: 00:00 - 05:00 Early Mornings with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Daniëlskuil se gesteelde skoolbus is steeds weg

───   ZENANDE MPAME 12:59 Wed, 24 Apr 2024

 Daniëlskuil se gesteelde skoolbus is steeds weg | News Article
Die bus is laas in Gauteng gesien. Foto: Facebook/Daniëlskuil Combined School

“’n Soektog is aan die gang na die skoolbus.”

Die polisie in die Noord-Kaap ondersoek ’n saak van diefstal nadat ’n Hino-skoolbus na bewering die naweek by die Hoërskool Daniëlskuil gesteel is.

Personeel van die skool, sowat 100 km suid van Kuruman, het Maandagoggend (22/4) opgemerk dat die bus weg is en dit by die polisie aangemeld.

“Upington se eenheid vir voertuigmisdade ondersoek die diefstal van ’n 60-sitplek-Hino-skoolbus van die Hoërskool Daniëlskuil,” sê Sergio Kock, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder. “Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort.”

‘Die saak is by die distrikskantoor aangemeld’

“Ons kan bevestig dat die Hoërskool Daniëlskuil die saak by die distrikskantoor aangemeld het dat hul skoolbus gesteel is en die voorval is by die polisie aangemeld,” sê Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die Noord-Kaapse onderwysdepartement.  

“Ons doen ’n beroep op enigeen met inligting om na vore te kom en dit by die polisie aan te meld.”


Die skool skryf op sy Facebook-blad dat die skoolbus Saterdag (20/4) laas in Gauteng opgemerk is. Die nommerplaat van die bus is CMW 708 NC. Enigeen met inligting kan die ondersoekbeampte, Ben Witbooi, by 082 495 4849 bel.

Op 31 Januarie is die skoolbus van die Hoër Volkskool Heidelberg in Gauteng in die vroeë oggendure gesteel. Die bus is ure later gekry. Heidelberg Times berig die bus is opgespoor tussen Pretoria en Marble Hall in Mpumalanga.

OFM Nuus/Zenande Mpame dg/mc

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.