On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Roudiens vir Vaaldriehoek-familie ná ontbinde liggame in huis gevind is

───   HEIDRÈ MALGAS 11:54 Fri, 26 Apr 2024

Roudiens vir Vaaldriehoek-familie ná ontbinde liggame in huis gevind is | News Article
Die Roos-gesin wat dood in hul huis aangetref is. Foto: Vaalweekblad

Drie ontbinde liggame en ook twee ontbinde honde is gevind.

’n Roudiens word Woensdag (1/5) in die NG Moederkerk Meyerton gehou vir die gesin van die Vaaldriehoek wat dood in hul huis aangetref is.

Die gesin en hul twee honde, wat na bewering ’n week lank dood was voordat hulle gevind is, is geïdentifiseer as Hans Roos (68), sy vrou, Susan (62), en hul seun, Hansie (45), sê Tlaleng Moloi, Gautengse polisiewoordvoerder.

Die polisie het ’n oproep van iemand uit die gemeenskap ontvang nadat die familie vir ’n ruk nie gesien is nie en daar baie vlieë by die huis was.

‘Ek ken ook nie al my bure nie, maar ek hou ’n oog op en sien daagliks hul roetine’

“Die polisie op Meyerton voer ’n geregtelike doodsondersoek uit nadat ’n klagte van die publiek ontvang is oor vlieë oral om die huis in Suikerbosstraat, Golfpark, op Woensdag 17 April omstreeks 15:15,” sê sy.

Met die betreding van die huis is drie ontbinde liggame en ook twee ontbinde honde gevind. Die drie volwassenes is op die toneel deur paramedici dood verklaar. “Die motief agter die dood is op hierdie stadium nog onduidelik, en die saak word ondersoek.” ’n Geregtelike doodsondersoek word ook gedoen.

Sosialemediagebruikers krap kop oor die raaiseldood van die Roos-gesin. “Sjoe, so bitter hartseer dat mense deesdae nie meer vir ander omgee nie, maar eerder vir hulself,” skryf Antonette Yssel op Facebook.

“Ek ken ook nie al my bure nie, maar ek hou ’n oog op en sien daagliks hul roetine, so as dit te stil raak ná ’n dag, maak ek ’n plan om uit te vind of alles okay is met hulle. Ons is al wat oor is in hierdie siek wêreld, so wees lief vir jou naaste.”

Hans Roos (68). Foto Facebook

Phill Sefatsa meen: “Dit is sleg vir die land, sleg vir gesinne. Ons kan nie so lewe nie. Ons moet dit beveg.”

’n Ontstoke gebruiker, Lovemore Sporra, skryf: “Ons mense moor mekaar uit oor nietige dinge en materiële snert. Jy het hier gekom met niks en gaan terug met niks. Hoekom kan ons mekaar nie verdra nie en in liefde, vrede en harmonie saamleef nie?

“En vergeet van die rasse nonsens en dinge wat in die verlede gebeur het. Kom ons sien mekaar as mense en tree nie soos ’n klomp varke op nie. Besef dat wat ons doen verkeerd is en begin selfondersoek doen. God haat dit dat ons nie mekaar kan verdra nie. Ons bloed is almal rooi; net die velkleur verskil. Dit was onnodig om die gesin dood te maak en dit is hartseer.”

Susan Roos (62). Foto Facebook

Verlede jaar het OFM Nuus berig oor ’n gesin van Wilgehof, Bloemfontein, wat in Junie dood aangetref is by hul Byenes-dagsorgsentrum. Die liggame van Betsie Kruger, dagsorgmoeder/eienaar, haar dogter, Janine, en skoonseun, Christo Theron, is in die huis gevind.

Polisiewoordvoerder Lorraine Earle het gesê dat voorlopige ondersoeke, nadat bewyse ingesamel is, aandui dat die drie familielede vasgemaak en verwurg is.

Die polisie versoek enige persoon wat moontlik inligting het of iets oor die Meyerton-saak weet, om na vore te kom en speurder Kekana by 073 780 9154 of 016 360 4700 te bel of Stop Misdaad by 08600 10111.

OFM Nuus/Heidrè Malgas cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.