On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Upington-onderwysers staak nadat leerder onderwyser aanrand

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:03 Fri, 26 Apr 2024

Upington-onderwysers staak nadat leerder onderwyser aanrand | News Article
Die onderwysers staak nou omdat hulle voel die departement hoor hulle nie. Foto verskaf

“Die onderwyser voel al geruime tyd onveilig by die skool as gevolg van leerders wat onder die invloed van drank en dwelms skool bywoon.”

Onderwysers van ’n skool op Upington het besluit om te staak weens kommer oor hul veiligheid by die skool nadat ’n leerder ’n onderwyser aangerand het.

’n Leerder (17) van die Hoërskool AJ Ferreira het Donderdag (24/5) ’n onderwyser aangerand nadat hy hom gekonfronteer het omdat hy dagga op die skoolterrein gerook het, sê Leon Biergaard, voorsitter van die beheerliggaam.

Die situasie het glo vererger toe die onderwyser die leerder na die skoolhoof se kantoor geneem het, wat daartoe gelei het dat die leerder die onderwyser in die gesig geslaan het. Die onderwyser het beserings opgedoen, insluitend ’n beseerde vinger en sigbare merke aan sy lyf.

“Die onderwyser voel al geruime tyd onveilig by die skool as gevolg van leerders wat onder die invloed van drank en dwelms skool bywoon en dan in opstand kom wanneer hy of sy deur onderwysers gekonfronteer word. Sulke voorvalle het vrees by personeel en medeleerders veroorsaak,“ sê Biergaard.

Leerders wat ook onveilig voel by die skool. Foto verskaf

In reaksie op die aanranding is tugstappe teen die leerder gedoen, wat gelei het tot sy verwydering van die perseel. Die onderwyser het ook ’n klag van aanranding teen die leerder ingedien.

“Daar bly egter frustrasies onder die onderwyspersoneel oor die gebrek aan voldoende ondersteuning van die onderwysdepartement,” sê Biergaard. “Ten spyte van die navolging van die voorgeskrewe tugprosedures, wat mondelinge en skriftelike waarskuwings, tugverhore en moontlike skorsing insluit, voel onderwysers hul pogings beteken niks aangesien die gevolge vir leerders wat hulle wangedra, minimaal bly.

“Die onderwysers staak nou omdat hulle voel die departement hoor hulle nie. Hulle wil die reg hê om dissipline binne die skoolomgewing te kan afdwing.”

Die Noord-Kaapse Departement van Onderwys is besorg oor die situasie by die Hoërskool AJ Ferreira, sê Geoffery van der Merwe, woordvoerder. “Onderwysers het … ’n betoging by die skool gehou wat leer en onderrig ontwrig het ná die beweerde aanranding.

Die leerders besig om die skool te verlaat. Foto verskaf

“Die departement het ’n petisie van die onderwysers ontvang en sal onmiddellik aandag gee aan die eise wat geopper is. Ons het ook ons distrikskantoor opdrag gegee om die bewerings te ondersoek en onmiddellik stappe teen die geaffekteerde individue te doen.”

Van der Merwe sê skoolveiligheid is ’n prioriteit vir die departement en het die potensiaal om leer en onderrig nadelig te beïnvloed. “Ons doen ’n beroep op die skoolgemeenskap van AJ Ferreira om saam met ons te werk om ’n skoolomgewing te skep wat bevorderlik is vir kwaliteit openbare onderwys.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.