On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Ná agt maande in hospitaal kan Nicola weer in Vrystaat boer

───   KAREN VAN DER BERG 12:58 Mon, 29 Apr 2024

Ná agt maande in hospitaal kan Nicola weer in Vrystaat boer | News Article
Nicola Bornman se vreugde ken geen perke noudat sy weer by die huis is nie. Foto verskaf

“Ek het altyd gehuil wanneer ek hulle moes groet. Ek het my huis so baie gemis.”

Dit is die allerbeste gevoel om weer tuis te wees – in Bothaville in die Vrystaat, waar sy hoort.

So vertel Nicola Bornman (19), wat ná agt maande in die hospitaal huis toe kon gaan. Dit was ’n uitputtende en uitmergelende tyd in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad. Daar was ’n tyd in die hospitaal wat sy net 34 kg geweeg het.

Ná drie jaar se gesukkel het ’n gastroënteroloog eindelik Crohn se siekte by Nicola Bornman gediagnoseer. Foto verskaf

“Die slegste deel was om nie by my gesin te wees nie.” Haar ouers, Priscilla en Nico, en haar broer, André (18), “kon net vir kort tydjies by my kom kuier. Ek het altyd gehuil wanneer ek hulle moes groet. Ek het my huis so baie gemis.”

Nicola vertel sy was net elf toe sy in 2015 skielik siek geword nadat hulle saam met goeie vriende by ’n dam kampeer het. Sy was die hele tyd naar en kon niks in haar lyf hou nie en het vinnig gewig verloor.

Die jare wat gevolg het, was moeilik. Hulle het dokter op dokter besoek om agter te kom wat fout is. Niks het gewerk nie. Ná drie jaar se gesukkel het ’n gastroënteroloog eindelik vasgestel wat skort: Crohn se siekte. Die siekte veroorsaak inflammasie in ’n mens se spysverteringstelsel.

Nicola Bornman was agt maande lank in ’n Kaapse hospitaal. Foto verskaf

“Dit was steeds nie die einde van die moeilike pad nie.” In die daaropvolgende jare moes sy ’n kolostomie ondergaan. Haar dikderm is tydens die operasie geperforeer.

“Ek moes ook daarna ’n stoma kry. En in Augustus verlede jaar is ongeveer 95% van my kolon verwyder.”

In die afgelope jare en maande was daar soveel struikelblokke. Infeksies, bloedklonte en wonde wat nie wou genees nie.

’n Bietjie meer as ’n maand gelede het sy ook hopelik een van haar laaste operasies ondergaan om haar dunderm wat buite haar lyf gesit het, terug te plaas. Nicola vertel die operasie was darem ’n sukses en sy kon einde ten laaste huis toe gaan. Plaas toe. Om weer saam met haar pa te boer.

Nicola Bornman is ná agt maande weer op die plaas. Foto verskaf

“Daar is soveel mense wat ons ondersteun het en vir wie ons moet dankie sê.”

Sy beplan om later skoonheidsterapie te studeer. Of dalk ’n rigting in die gasvryheidsbedryf te volg.

As daar een ding is wat sy nou weet, is dit dat jy jou tyd saam met jou familie moet koester. “Jy weet nooit wanneer so iets met jou kan gebeur nie.”

OFM Nuus/Karen van der Berg cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.