On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Vermeende dronkbestuurder van Klerksdorp in aanhouding ná ongeluk

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:55 Tue, 30 Apr 2024

Vermeende dronkbestuurder van Klerksdorp in aanhouding ná ongeluk | News Article
Nadine Pieterse. Foto verskaf

“Nadat die bakkie se nommerplaat op die toneel opgetel is, is hy dieselfde aand by sy huis in Meiringspark in hegtenis geneem.”

Die beskuldigde wat na bewering verantwoordelik is vir die dood van ’n vrou (26) van Klerksdorp nadat sy voertuig haar getref het, het Maandag (29/04) in die hof verskyn.

Andries Thomas van Niekerk (53) het verskyn op aanklagte van strafbare manslag, dronkbestuur en die feit dat hy die ongelukstoneel verlaat het. Hy is steeds in aanhouding, sê kol. Adéle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder.

Die ongeluk het Donderdagaand (24/04) om 19:25 in Afrikanerstraat, Roosheuwel, plaasgevind toe die twee niggies, Nadine (26) en Eldean Pieterse (21), en Eldean se broer en sy meisie kafee toe gestap het. Op pad huis toe het ’n motor oor die sypaadjie gery en eers vir Eldean getref en toe vir Nadine.

Nadine en Eldean Pieterse. Foto verskaf

“Nadine is genadeloos 23 m ver deur die bakkie gesleep terwyl haar klere aan die bakkie vasgehaak het,” vertel Eldean. Nadine het twee uur ná die ongeluk in die hospitaal aan haar beserings beswyk. Eldean se ligament in haar been is geskeur. Sy het ook beserings aan haar voet opgedoen van die bakkie se band wat haar getref het en haar regterskouer is beseer.

Die bestuurder van die rooi Isuzu-bakkie het weggejaag. Nadat sy bakkie se een nommerplaat op die toneel opgetel is, is hy dieselfde aand tuis in Meiringspark in hegtenis geneem.

Volgens Eldean was die man onder die invloed van drank. Sy vertel dat die man aan die polisie gesê het hy het gedink Nadine was ’n hond wat hy getref het; daarom het hy weggejaag.

Nadine Pieterse. Foto: Facebook

“Ek het my beste vriendin verloor,” bewe Eldean se stem van hartseer. “Nadine was meer as my niggie. Sy het altyd geweet hoe om my beter te laat voel. Sy was altyd vol energie, het altyd gelag en was altyd die loudste persoon in die vertrek.”

Nadine sal Vrydag (3/5) uit die NKHA Gemeente Klerksdorp-Oos Môrester begrawe word.

Die polisie se ondersoek duur voort.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.