On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Polisieoptrede teen blouligbende op N3 verwelkom

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:46 Tue, 30 Apr 2024

Polisieoptrede teen blouligbende op N3 verwelkom | News Article
Blouligrooftogte is op die N3 in die Noord-Vrystaat en Gauteng uitgevoer met ’n wit Toyota Hilux-bakkie. Foto verskaf

In een voorval is nege vragmotors tegelyk tot stilstand gedwing en met petrolbomme bestook.

Die VF Plus verwelkom die optrede deur die polisiespanne wat die naweek vermeende lede van ’n blouligkapingsbende op die N3 vasgetrek het.

Drie vermeende rowers is ook Sondagaand tydens ’n skietgeveg met die polisie in Gauteng doodgeskiet.

Die polisie het glo inligting ontvang van ’n bende wat bekend is daarvoor dat hulle blouligrooftogte op die N3 tussen Villiers in die Noord-Vrystaat en Heidelberg in Gauteng uitgevoer het met ’n wit Toyota Hilux-bakkie, sê Brenda Muridili, Gautengse polisiewoordvoerder.

“ ’n Reaksiespan, bestaande uit verskeie wetstoepassers, polisie-eenhede en sekuriteitsfirmas, is saamgestel en die verdagtes is op die N3-snelweg by Grootvlei in Mpumalanga opgespoor, waar hulle in ’n voertuig gery het wat met blou sireneligte toegerus was.”

Beamptes het op twee ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie, blou sireneligte en die rowers se voertuig beslag gelê. Foto verskaf

Muridili sê die verdagtes het probeer vlug toe hulle die polisie sien en ’n jaagtog in die rigting van Zonkizizwe, Ekurhuleni, het gevolg. Die verdagtes het op die polisie begin skiet waarna die beamptes teruggeskiet het. Drie rowers is in die oor-en-weer-skietery dood en een het weggehardloop.

Beamptes het op twee ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie, blou sireneligte en die rowers se voertuig beslag gelê. Die misdaadtoneelbestuurspan het die toneel vir verdere bewyse gefynkam.

Die bende was vermoedelik betrokke by verskeie voorvalle in die gebied tussen Villiers en Heidelberg, sê Jan van Niekerk, Vrystaatse VF Plus-leier, en drie van die bendelede is in die onlangse konfrontasie dood.

“Toenemende kapings, moorde en aanvalle op die N3 die afgelope jaar het padgebruikers se veiligheid in gedrang gebring. Die VF Plus het in Junie, ná die aanval op ao. Neels du Randt, daarop aangedring dat die Vrystaatse polisiekommissaris, lt.genl. Baile Motswenyane, ’n spesiale taakspan aanstel om die voortdurende kapings in die Vrystaat, veral op die N3 tussen Warden en Heidelberg, stop te sit.”

In een voorval is nege vragmotors tegelyk tot stilstand gedwing en met petrolbomme bestook.

Van Niekerk meen dis van kardinale belang dat misdadigers verantwoordelik gehou word vir hul optrede. “Die VF Plus sal aanhou druk plaas op die regering om doeltreffende maatreëls teen georganiseerde misdaad in te stel.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.