Central SA
Drie mans op Kanoneiland aangekeer met bedreigde plante─── 13:57 Wed, 01 May 2024
“Daar was verskeie sakke op die voertuig wat verdag voorgekom het.”
Drie mans sal binnekort in die Upingtonse landdroshof verskyn op aanklagte van die besit van beskermde plante.
Polisie op Kanoneiland was Maandag (29/4) besig met ’n roetinepatrollie toe hulle ’n verdagte voertuig op die N14 naby Kanoneiland gewaar, sê Omphile Masegela, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder. Hulle het op die beskermde inheemse plante afgekom nadat hulle die bestuurder voorgekeer en die voertuig deursoek het.
’Een van die verdagtes is reeds deur die polisie gesoek’
Die bestuurder kon nie ’n geldige permit vir die plante toon nie. ’n Voorlopige ondersoek deur die eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies toon dat die plante sowat R180 000 werd is.
Die drie mans is in hegtenis geneem op aanklagte van die onwettige besit van beskermde plante. Dit het ook intussen aan die lig gekom dat een van die verdagtes reeds deur die polisie gesoek word.

Die polisie op Springbok, Namakwaland, se eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies het op 1 Februarie 2022 beslag gelê op meer as 5 500 konofietplante.
Die onwettige handel in beskermde plante uit die dorre dele van die Noord-Kaap neem kommerwekkend toe. Volgens die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (Sanbi) het die getal plante wat deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens van stropers gekonfiskeer is, tussen 2019 en 2022 jaarliks met meer as 250% toegeneem, berig GroundUp. Teen November 2021 het die polisie op sowat 415 000 plante beslag gelê.
Nontsikelelo Mpulo, Sanbi-woordvoerder, sê die hoeveelheid gestroopte plante is waarskynlik veel meer omdat monitering en toepassing in uitgestrekte Noord-Kaapse landskappe uitdagend is. “Ons vermoed dat minder as ’n kwart van die handel deur wetstoepassers onderskep word. Heel moontlik is meer as 1,5 miljoen plante (tussen 2029 en 2022) uit die natuur verwyder,” sê Mpulo.
GroundUp het met ’n inwoner van Springbok gepraat, wat gesê het hy is nie self ’n stroper nie, maar het dit ernstig oorweeg. Hy het gesê stropery in die gebied is ’n gevolg van hoë werkloosheidsyfers, wat in die Noord-Kaap byna 50% is.
OFM Nuus mc
