Central SA
ANC keur R700 000-verhoging goed vir Mangaung se stadsbestuurder─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:41 Wed, 01 May 2024

“Bloemfontein gaan gebuk onder swak dienslewering wat insluit geen of min vullisverwydering, waterlekkasies, wateronderbrekings, slaggate en stukkende verkeersligte.”
Die ANC het op ‘n raadsvergadering van die Mangaung-metroraad besluit om die salaris van die stadsbestuurder, Sello More, tot die hoogste kerf van die hoogste salarisskaal te verhoog.
More is verlede jaar aangestel en is nog nie eens ses maande in die amp nie.
“Dit is in geheel ‘n irrasionele en ondeurdagte besluit van die ANC-meerderheid in die raad wat hulle aan die neus laat lei deur die stadsbestuurder en departementshoofde, gegewe die feit dat die Mangaung-metro bankrot is en onder ‘n artikel 139 (5)-intervensie van die nasionale regering is,” sê Henry Denner, VF Plus-raadslid.
Henry Denner. Foto: VF Plus
Denner sê die stadsbestuurder kry ‘n verhoging van meer as R700 000, wat sy salaris op sowat R2,45 miljoen per jaar te staan sal bring, wat beteken dat die Mangaung-stadsbestuurder min of meer dieselfde verdien as ‘n minister in die kabinet en heelwat meer as ‘n adjunkminister, wat R2,1 miljoen per jaar verdien.
Hy meen dié R700 000 kan liewer gebruik word om van die diensleweringsprobleme in die Vrystaatse hoofstad op te los. “Daar is strate waar kinders in riool speel wat op plekke enkeldiep deur die woonbuurte stroom.
“Daar is inwoners in die munisipaliteit wat nog die emmerstelsel moet gebruik, maar die ANC is bereid om selfs sy eie kiesers tesame met al die ander inwoners te verloën om een kader ter wille te wees.”
‘Dit is ‘n klap in die gesig van die inwoners’
Denner beklemtoon Bloemfontein gaan gebuk onder swak dienslewering, wat insluit geen of min vullisverwydering, waterlekkasies, wateronderbrekings, slaggate en stukkende verkeersligte, padtekens en padmerke wat ontbreek en ‘n rioolnetwerk wat op die punt is om heeltemal in duie te stort.
“In die lig hiervan is die vermorsing van R700 000 op een amptenaar, wat reeds ‘n buitensporige salaris verdien, ‘n skreiende skande. Dit is ‘n klap in die gesig van die inwoners van Mangaung wat geen dienste kry nie, maar meer aan salarisse sal moet opdok.”
OFM Nuus cg