Central SA
Vrou in Welkom gevonnis weens geldwassery─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:09 Wed, 01 May 2024

“Die begrotingsbestuurder het die bewys van betaling aan die diensverskaffer gestuur, wat besef dat dit nie hul bankbesonderhede is nie en ook die e-pos bevraagteken wat deur die valse diensverskaffer aan die munisipaliteit gestuur is.“
‘n Vrou van Welkom is gevonnis nadat sy skuldig gepleit het op aanklagte van geldwassery.
In Desember 2020 het die begrotingsbestuurder by Mantsopa-munisipaliteit ’n e-pos ontvang van Maria Louisa Venter (44), wat haarself voorgedoen het as ’n diensverskaffer genaamd Project Pioneer Construction, sê ao. Fikiswa Matoti. Haar e-pos was in verband met ’n uitstaande betaling van R225 289,69.
“Die begrotingsbestuurder was bewus dat daar wel ’n uitstaande bedrag geld was wat aan die diensverskaffer betaal moes word. Hulle het toestemming van die finansiële hoof gevra om die betaling te maak. Toestemming is verleen en die geld is oorgeplaas na ’n bankrekening wat deur die valse diensverskaffer verskaf is.”
‘Die saak is toe verwys na die Valke’
’n Paar dae later het die regte diensverskaffer die munisipaliteit genader en die uitstaande betaling aangevra.
Matoti sê die begrotingsbestuurder het toe die bewys van betaling aan die diensverskaffer gestuur, wat besef dat dit nie hul bankbesonderhede is nie en ook die e-pos bevraagteken het wat deur die valse diensverskaffer aan die munisipaliteit gestuur is. “Die munisipaliteit het by die bank bevestig dat hulle geld aan die verdagte betaal het.”
Die saak is toe verwys na die Valke se ondersoekspan vir ernstige handelsmisdaad op Bethlehem vir verdere ondersoek. ’n Lasbrief vir inhegtenisneming is op 14 Februarie teen die beskuldigde uitgereik.
‘Sy is tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis’
Venter is in Pretoria opgespoor en deur Pretoria-Noord se speurdiens in hegtenis geneem en aan die Valke oorhandig vir haar eerste hofverskyning op 16 Februarie.
Sy is tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis wat geheel en al vir vyf jaar opgeskort is op een aanklag van geldwassery.
Genl.maj. Mokgadi Bokaba, Vrystaatse hoof van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoek, loof die ondersoekbeampte vir hul ywerige ondersoek wat gelei het tot Venter se vonnisoplegging.
OFM Nuus cg