On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

Central SA

Brandfort-vrou skuldig bevind aan gruwelike verwaarlosing van ses perde

───   HEIDRÈ MALGAS 10:25 Tue, 07 May 2024

Brandfort-vrou skuldig bevind aan gruwelike verwaarlosing van ses perde | News Article
Die perde is in vuil toestande gevind met ’n oop rioollyn wat deur die eiendom loop. Foto verskaf

“Ek glo dat haar voortgesette deelname aan hierdie perdesport bygedra het tot die wreedheid wat teenoor hierdie arme diere gepleeg is.”

’n Vrou van Brandfort in die Vrystaat is skuldig bevind aan dieremishandeling nadat sy haar ses perde verwaarloos het.

Christel van Rhyn se perde is op haar eiendom in ’n ernstige toestand gevind. Hulle het skaars enige spiermassa gehad, sê Reinet Meyer, hoofinspekteur vir die Bloemfontein DBV. “Hul heupe, ruggraat en ribbes was alles duidelik sigbaar.”


Die perde is verder in vuil toestande gevind met ’n oop rioollyn wat deur die eiendom loop. Die perde het verskeie mediese toestande getoon, insluitend kissing spine (kussingsiekte). In sulke gevalle is die rugwerwels te na aan mekaar of raak aan mekaar. Die gebrek aan ruimte tussen werwels verminder rugmobiliteit en veroorsaak pyn tydens beweging, namate die rugwerwels teen mekaar skuur.

Meyer sê sy vind dit “kommerwekkend” dat Van Rhyn aktief aan perderuitersport deelneem. “Ek glo dat haar voortgesette deelname aan hierdie perdesport bygedra het tot die wreedheid wat teenoor hierdie arme diere gepleeg is.”

Van Rhyn is skuldig bevind ingevolge Artikel 2(1)(a) van die Dierebeskermingswet en is verder ongeskik verklaar om ’n vuurwapen te besit en is vir twee jaar verbied om enige perde te besit.

Die perde het verskeie mediese toestande getoon, insluitend “kissing spine” (kussingsiekte). Foto verskaf

Sy is beboet met R3 000, of in gebreke van betaling, drie maande direkte gevangenisstraf, opgeskort vir drie jaar op voorwaarde dat die beskuldigde nie weer aan dieremishandeling skuldig bevind word nie.

OFM Nuus het in ’n afsonderlike voorval in Januarie vanjaar berig eienaars van donkies op Rouxville in die Suid-Vrystaat word aangekla ingevolge die Wet op Dierebeskerming.

Toe ’n span Donderdag 25 Januarie na die Rouxville-landdroshof op pad was vir ’n onverwante hofsaak oor ’n onwettige jagtog, wat in 2022 geopen is, het hulle op ’n donkiekar afgekom wat erg met gruis oorlaai was, het Werner Botha, Bloemfonteinse DBV-inspekteur, gesê. Hulle het opgemerk dat die donkies in ’n swak toestand was en tipiese tekens van ongemak getoon het.

“Die donkies het verskeie snywonde gehad nadat hulle deur die eienaar geslaan is. Veelvuldige saalsere is opgemerk aangesien die harnasse wat gebruik is, tuisgemaak is en geweldige druk op die donkies se nek, bors en skedel veroorsaak het. 

Die span het verder opgemerk dat ’n septiese oop wond in die mond van een van die donkies aanwesig was aangesien die stang wat gebruik is verkeerd was.”

OFM Nuus/Heidrè Malgas cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.