On Now
Weekends 16:00 - 19:00
All Request Sunday Nikki
NEXT: 19:00 - 20:00 Nuut in Afrikaans with Nadine
Listen Live Streams

Central SA

Karooman kry 20 jaar vir roof, diefstal en huisbraak

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:52 Tue, 07 May 2024

Karooman kry 20 jaar vir roof, diefstal en huisbraak | News Article
Foto: iStock

“Sy derde oortreding was op 9 Mei 2023 toe Witbooi ’n 16-jarige-seun besteel het. Hy het die seun met ’n mes gedreig en ’n 20 kg-sak hoender by hom afgevat.”

’n Man van Richmond in die Noord-Kaap is 20 jaar tronkstraf opgelê vir roof, diefstal en huisbraak.

Die streekhof op Richmond het Jason Witbooi (23) Maandag (6/5) vir 20 jaar tronk toe gestuur, sê lt.kol. Sergio Kock, provinsiale polisiewoordvoerder. Die eerste oortreding van diefstal het in November 2020 plaasgevind toe Witbooi onwettig ’n huis op Richmond binnegegaan het en ’n selfoon by ’n vrou gegryp het. Hy het op die vlug geslaan.

Tydens die tweede voorval, in Februarie 2022, het Witbooi by ’n huis op die Karoodorp ingebreek en waardevolle items gesteel. Die polisie het Witbooi in besit van die gesteelde items aangekeer.

Hy het egter daarin geslaag om te vlug en die gesteelde goedere net daar gelos, maar is later die dag in hegtenis geneem. Witbooi is daarna uit die tronk vrygelaat nadat die saak tydelik teruggetrek is.

Die SAPD in die Noord-Kaap het Witbooi se vonnis verwelkom. Foto: SAPD

Sy derde oortreding was op 9 Mei verlede jaar toe hy ’n 16-jarige-seun besteel het. Hy het die seun met ’n mes gedreig en ’n 20 kg-sak hoender van hom gevat.

Witbooi is die volgende dag aangekeer en was vir amper ’n jaar agter tralies voor sy vonnisoplegging. Hy is tot vyf jaar gevangenisstraf vir die diefstal in 2020 opgelê, asook vyf jaar vir die huisbraak-en-diefstalvoorval in 2022. Hy is ook vir die roof tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis.

Witbooi sal dus altesaam 15 jaar tronkstraf uitdien, met die vonnisse vir aanklagte een en twee wat samelopend uitgedien sal word.

‘Polisie van Richmond en Colesberg geloof vir hul puik spanwerk’

Lt.kol. Koliswa Otola, provinsiale polisiekommissaris, het die ondersoekbeamptes, speursers. Stephanie Koen en speurkonst. Rodney Julies van Richmond, asook Colesberg se misdaadrekord- en misdaadtoneelbestuur geloof vir hul puik spanwerk wat die vonnis moontlik gemaak het.

Die polisie moedig mense aan om deel te neem aan die “Beoordeel ons diens”-QR-opname aanlyn en die polisie te help om ons diens aan die publiek te verbeter.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.