On Now
Weekends 16:00 - 19:00
All Request Sunday Nikki
NEXT: 19:00 - 20:00 Nuut in Afrikaans with Nadine
Listen Live Streams

Central SA

Klerksdorp-aanranding: Saak uitgestel tot Augustus

───   HEIDRÈ MALGAS 14:55 Tue, 07 May 2024

Klerksdorp-aanranding: Saak uitgestel tot Augustus | News Article
Hilton Pretorius is in September 2023 aangerand in ’n parkeerterrein in Doringkruin, Klerksdorp. Foto: Facebook

“Ons as familie is baie dankbaar dat die polisie die saak deeglik ondersoek en ons besef dit neem tyd.”

Die man wat beskuldig word van die moord op Hilton Pretorius se saak is uitgestel tot 30 Augustus. Hy het Maandag (6/5) in die landdroshof in Klerksdorp verskyn. Intussen is borgtog toegestaan en hy werk in die buiteland.

Wernich Botha word aangekla van die moord op Pretorius (32), wat in September aangerand is in ’n parkeerterrein in Doringkruin, Klerksdorp, en 18 dae later aan sy beserings gesterf het.

“Ons as familie is baie dankbaar dat die polisie die saak deeglik ondersoek, en ons besef dit neem tyd. Ons gee 100% samewerking in hierdie verband,” sê Linda Mey, Pretorius se ma.

Botha se borgtog geld steeds en hy is vry, maar hy moet weer op 30 Augustus in die hof verskyn. Mey se daar is baie administratiewe prosedures en dokumente van verskeie partye wat deur die hof moet gaan.

“Ons gun tyd aan al die ondersoeke om volledige en akkurate feite vir die hof te versamel om die beste uitkoms te verseker, wat van uiterste belang is.”

Wernich Botha in ’n vorige hofverskyning. Foto Facebook

OFM Nuus het voorheen berig dat Pretorius in die hospitaal oorlede is. Die aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer is toe volgens Adéle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder, na moord verander.

Maroela Media berig Botha se regsverteenwoordiger het die hof versoek om die saak tot Augustus uit te stel, aangesien Botha in die buiteland (Somalië) werk en reëlings met sy werkgewer moet tref om die hofverrigtinge by te woon.

Die Klerksdorpse sakeman PW Roos is bewusteloos geslaan toe hy na bewering tydens die voorval tussenbeide wou tree.

Dodelike liefdesdriehoek? Hilton Pretorius en Natasha Fischer. Foto: Facebook

OFM Nuus het ook berig dat past. Lesiba Kgwele, sameroeper van die MRM Provinsiale Interimkomitee, sy medelye aan die Pretorius-familie betuig het. Hy het die voorval wat hul seun se lewe geëis het, as tragies en emosioneel verwoestend bestempel.

“As die verdagte toegelaat word om vrylik in die samelewing te beweeg, sal dit ’n ernstige bespotting van die gereg wees,” het Kgwele vroeër gesê.

Die wrede aanranding het nie net die lewens geëis van twee jong mans wat in ’n liefdesdriehoek met Natasha Fischer was nie, maar dit het ook PW Roos geraak, wat onder die mans was wat na bewering deur ’n woedende Wernich Botha op die toneel aangeval is, meen Kgwele.

OFM Nuus/Heidré Malgas cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.