Central SA
Verpleegstersdag: Life Rosepark kondig G100-wenners aan─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:57 Fri, 10 May 2024
“Ons verpleegsters verdien om vereer te word en erkenning te kry vir hul toewyding om deernisvolle, bedagsame sorg aan ons pasiënte te lewer.”
Life Rosepark Hospitaal in Bloemfontein, van een van Suid-Afrika se bekendste hospitaalgroepe, vereer jaarliks sy verpleegsters met die Great 100 Nurses-toekennings.
Die hospitaal het Vrydag (10/5) met trots hul Life Healthcare G100-verpleegsterwenners vereer en die belangrike rol van verpleegkundiges op Internasionale Verpleegstersdag erken.
Die wenners Tebello Duma, ingeskrewe verpleegster, en Frieda Lindeque, geregistreerde verpleegster, werk albei in die kraamsaal by die hospitaal.

Die wenners Tebello Duma, ingeskrewe verpleegster en Frieda Lindeque, geregistreerde verpleegster werk albei in die kraamsaal by die hospitaal. Hier is hulle saam met Christina Fourie, adjunk-verpleegkundige bestuurder; Hein Rossouw, hospitaalbestuurder; en Lizelle Rood, verpleegbestuurder van Life Rosepark Hospitaal. Foto verskaf
Die dag word jaarliks op 12 Mei gevier, op dieselfde dag wat Florence Nightingale, die baanbreker van moderne verpleging, se verjaardag herdenk word.
“Internasionale Verpleegstersdag is ’n belangrike dag op ons hospitaalkalender, omdat dit ons in staat stel om ons verpleegsters te vier en te eer vir hul ongelooflike toewyding tot uitnemendheid in pasiëntsorg. Ons verpleegsters werk nie net hard om kwaliteit verpleging te verskaf nie, maar hulle genees die liggaam, gees en siel vir baie van ons pasiënte, met deernis en sorg,” sê Hein Rossouw, Hospitaalbestuurder van Life Rosepark.
Ter viering van dié dag het hospitaal- en eenheidbestuurders verpleegsters Vrydagoggend by die hospitaal se hoofingang verwelkom toe hulle vir werk opgedaag het. Boodskappe van Life Healthcare-bestuurders, geskenke en koopbewyse van Life Healthcare en die hospitaal is deur die verpleegsterbestuurspan aan hulle uitgedeel. Die dag se aktiwiteite is afgesluit met ’n spesiale erkenningsfunksie. By die funksie is twee Life Healthcare G100-verpleegsterwenners van Life Rosepark Hospitaal, ingeskrewe verpleegster Tebello Duma en geregistreerde verpleegster Frieda Lindeque, deur hul kollegas erken en toegejuig.
Celebrating International Nurses Day 2024 @boltonnhsft today and the valued contribution of our nursing colleagues past and present #IDN2024 @tyroneroberts2 pic.twitter.com/ObPGtpinkh
— Janet Cotton (@jacotton01) May 10, 2024
“Deur Life Healthcare se Great 100 Nurses-toekennings gee ons erkenning aan ons verpleegsters wat bydra tot ons topklas-hospitaalverpleegspan. Die toekennings is een van die maniere waarop ons die positiewe impak van ons verpleegkundige uitnemendheid en kwaliteitsorg beklemtoon. Ons verpleegsters verdien om vereer te word en erkenning te kry vir hul toewyding om deernisvolle, bedagsame sorg aan ons pasiënte te lewer,” sê Rossouw.
Verpleegkundiges is bekwame en opgeleide gesondheidswerkers wat die wetenskap en kuns van verpleging balanseer met ’n onwrikbare toewyding om die siekes en kwesbares te versorg. Hulle is verbind tot spanwerk, aanpasbaarheid, deernis, empatie en nog baie meer.
Life Healthcare se hoofverpleegkundige, Merle Victor, het ook haar dank aan alle Life Healthcare-verpleegsters uitgespreek. “Ons erken en loof die werk wat jy doen, nie net vir ons maatskappy nie, maar ook vir die mense in jou gemeenskappe. Jou deernis, sorg en professionaliteit word hoog op prys gestel en dra aansienlik by tot die algehele welstand van ons organisasie, individue en die samelewing as geheel.”
