Central SA
Beskuldigde in veediefstalsaak neem eie lewe─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:35 Sat, 11 May 2024
“’n Werker wat deur ’n venster gekyk het, het omstreeks 09:30 op Boshoff afgekom en hulp ontbied.”
’n Man van Ottoshoop, Noordwes, wat van veediefstal aangekla word, het sy eie lewe geneem.
’n Geregtelike doodsondersoek is geopen nadat Wiltrus Boshoff homself glo Sondag (5/5) in die kop geskiet het, sê brig. Sabata Mokgwabone, Noordwes-polisiewoordvoerder. “’n Werker wat deur ’n venster gekyk het, het omstreeks 09:30 op Boshoff afgekom en hulp ontbied.”
Boshoff is in 2022 saam met ses ander beskuldigdes in hegtenis geneem en het op aanklagte van diefstal in die Molope-landdroshof in Mmabatho verskyn. Boshoff is saam met die broers Bert (49) en Simon Wessel (47) van veediefstal aangekla, asook ’n laerskoolvriend van die Wessel-broers, Stephan Wallis (47), ’n vriendin van hulle, Janine Hill (50), en twee werkers, Ntlhothana Motswabangwe (33) en Rapula Letsapa (25).
Die verdagtes het borgtog van tussen R3 000 en R12 000 gekry en is beveel om in huisarres te bly.
Die saak teen die ander beskuldigdes, wat steeds voortgaan, is tot volgende maand uitgestel.
Die boere in die Ottoshoop- en Lichtenburg-omgewing het die afgelope 30 maande ’n stryd teen veediewe gevoer wat al miljoene rande se vee gesteel het, bevestig Mokgwabone. Die afgelope paar maande is daar meer privaat ondersoekers vir veediefstal opgelei.
Altesaam 21 privaat ondersoekers is in die Vrystaat beskikbaar om veediefstal te bekamp. Vrystaat Landbou, in samewerking met ’n privaat sekuriteitsmaatskappy, het 16 bykomende privaat ondersoekers deur Private Security Industry Regulatory Authority (PSiRA) opgelei.”
“Die inisiatief het aanvanklik op 1 Julie 2023 in die Fezile Dabe-distrik begin toe Vrystaat Landbou self R1 miljoen befonds het omdat gevalle van veediefstal in die Vrystaat onaanvaarbare vlakke bereik het.
“’n Tekort aan mannekrag, voertuie en toerusting by veediefstal-eenhede van die polisie is ’n groot bron van kommer en dit het duidelik geraak dat ’n gemeenskapsprojek nodig was om te help om dinge om te draai,” sê Peet Swanepoel, provinsiale koördineerder vir die PSiRA-privaat ondersoekers.
Isabel Kruger, veediefstalveiligheidsverteenwoordiger van Vrystaat Landbou, meen dat die groot behoefte op grondvlak daarop dui dat kommersiële boere geweldig geteiken word deur kriminele groepe en sindikate wat vee steel.
“Dit het so vererger dat heelwat boere hul boerderypraktyke moes opgee, óf van sekere dieretipes ontslae raak. Die koördinering van dié tipe misdaad en sentralisering van alle inligting is van kardinale belang ten einde sukses te bereik.”
OFM Nuus/Charne van der Merwe cg



