On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Familie vrees beskuldigde moordenaar se borgtog

───   CASEY-LEE ANTHONY 11:59 Wed, 15 May 2024

Familie vrees beskuldigde moordenaar se borgtog | News Article
Mandy Bailey (43) is na bewering op 27 Desember in haar huis geskiet. Foto: Facebook

“Hy is ’n bedreiging vir ons, en ek weet sonder twyfel dat as hy op borgtog uitkom, hy my en my suster, en moontlik die res van my familie, sal doodmaak.”

Die familie van ’n vrou van Kimberley, wat tuis voor haar negejarige dogter doodgeskiet is, leef in vrees dat haar beskuldigde moordenaar borgtog sal kry.

Alberto Matthews (45), die beskuldigde moordenaar en eksman van Mandy Bailey (43), het na bewering op 27 Desember Bailey se huis deur die agterdeur binnegegaan, waar sy en haar dogtertjie langs mekaar gelê het en haar in die kop en skouer geskiet.

Mandy Bailey en haar jongste dogter Emma Cupido. Foto verskaf 

Haar broer en oudste dogter het die skote gehoor en kom ondersoek instel, toe die beskuldigde na bewering ook sy vuurwapen op hulle gerig het. Dit het egter gestaak, waarna hy op die vlug geslaan het.

Mandy het in die ambulans op pad hospitaal toe aan haar beserings beswyk. Die beskuldigde is die volgende dag in die Kimberleyse voorstad in Beaconsfield aangekeer op aanklag van moord.

Matthews het in Januarie in die hof verskyn en aanvanklik sy borgaansoek laat vaar. Op 7 Mei het hy egter weer om borgtog aansoek gedoen. Dis vir die familie onaanvaarbaar weens die ernstige aard van die beweerde misdaad.

Haar dogters Erin en Emma Cupido. Foto verskaf

Die borgtogaansoek sou Maandag (13/5) plaasgevind het, maar is tot Vrydag (17/5) uitgestel. Familielede, vriende en ondersteuners het Maandagoggend voor die Kimberleyse landdroshof saamgedrom, heeltemal geklee in swart en met plakkate. Hulle sal na bewering weer Vrydag daar saamkom.

’n Petisie waarin Matthews se vrylating op borgtog teengestaan word, is deur die familie begin. Erin Cupido, Mandy se oudste dogter, het aan OFM Nuus gesê die petisie is geskep vir ekstra ondersteuning en sodat die regstelsel kennis kan neem van hulle vasbeslotenheid en vrees.


“Hy is ’n bedreiging vir ons, en ek weet sonder twyfel dat as hy op borgtog uitkom, hy my en my suster, en moontlik die res van my familie, sal doodmaak,” het Erin gesê.

Erin sê haar ma was die vriendelikste en mees saggeaarde mens. Dit is duidelik sigbaar deurdat sy die beskuldigde wou gehelp verander het en hom ’n kans gegee het. Die beskuldigde het haar en haar jonger suster van ’n ma beroof, veral ná alles wat Mandy vir Matthews gedoen het.

“Ek het nog nooit vir my of my kinders se lewe gevrees nie, soos wat ek nou doen. Die borgaansoek wat môre plaasvind, is so traumaties vir ons almal. As ’n ma, wat ook die voog van haar kinders is, is absoluut angswekkend, om te dink dat hierdie moordenaar dalk op borgtog vrygelaat kan word,” het Ronelle Booysen Maandag (13/5) in ’n Facebook-plasing gesê.


“Hierdie ou het geen berou oor wat hy gedoen het nie. Ons sien hom baiekeer in die hof; hy kyk ons in die oë en glimlag asof hy so tevrede is met wat hy gedoen het.

“Jy sien, Alberto Matthews is ’n misdadiger, ’n moordenaar, ’n monster en ’n man sonder ’n hart,” skryf Booysen. “My suster het nie verdien om so te sterf nie, in die fleur van haar lewe. Sy het nie verdien wat hy besluit het geskik vir haar en haar dogters se lewe is nie. Hy is ’n monster.”

OFM Nuus/Casey-Lee Anthony cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.