On Now
Weekends 09:00 - 12:00
The Central SA Top 30 Pulane
NEXT: 12:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Laurika
Listen Live Streams

Central SA

Meer as 650 Bloemfonteiners wil ophou betaal vir vrot diens

───   12:48 Wed, 15 May 2024

Meer as 650 Bloemfonteiners wil ophou betaal vir vrot diens | News Article
Foto ter illustrasie/ iStock

“Hierdie lede verkies om voortaan eerder van ’n private diensverskaffer gebruik te maak.”

Meer as 650 Mangaung-belastingbetalers het aansoek gedoen om op te hou betaal vir ’n vullisverwyderingsdiens wat nie gelewer word nie.

“Hulle verkies om voortaan van ’n private diensverskaffer gebruik te maak,” sê Christo Groenewald, AfriForum-distrikskoördineerder. “Die voortslepende uitdagings met vullisverwydering en die bestuur van hierdie diens deur die Mangaung-metro het AfriForum gedwing om in te gryp.

“Ons as verbruikers moet die reg hê om te besluit oor diensverskaffers veral wanneer daar betaal word vir ’n diens wat nie gelewer word nie. Sedert begin Mei het vullisverwydering deur die metro afgeneem wat daartoe lei dat mense in elk geval gebruik moet maak van private diensverskaffers hoewel hulle steeds die metro moet betaal.”

Inwoners in Bloemfontein moet self plan maak met hul vullis. Foto: iStock

Groenewald sê die gemeenskap ontvang geen kommunikasie van die metro oor redes waarom die dienste sloer en wat die oplossings daarvoor is nie. “Dit is onaanvaarbaar. Die beloftes wat die metro van tyd tot tyd maak, is leeg. Intussen word ons pragstad ’n rommelterrein.”

Die metro beweer hy het verlede jaar slegs vier vrystellingsaansoeke ontvang, hoewel 654 ingedien is. Die metro het14 dae om te reageer op die vrystellingsaansoeke. Groenewald sê hy het al die aansoeke aan hulle beteken.

AfriForum se regspan het op 22 Januarie ’n finale aanmaningsbrief oor vulllisverwydering aan die metro gestuur weens die munisipaliteit se volgehoue swak bestuur van dié diens. 

“Vullis word net sporadies in Bloemfontein verwyder,” sê Groenewald. “Dit hou nie net ’n omgewingsrisiko in nie, maar skep ook geleenthede vir sogenaamde sakgrawers en diere om die vullissakke oop te skeur en dus rommel verder te versprei. Dit hou ook ten opsigte van misdadigheid ’n risiko in vir inwoners.”

Die vullis wat ophoop, hou ’n gesondheidsrisiko in. Foto: iStock

AfriForum het sedert Augustus verlede jaar die gemeenskap bygestaan om hul aansoeke om kansellasie in te dien. Ten spyte van verskeie skrywes wat AfriForum reeds oor dié aangeleentheid aan die metro oorhandig het, is tot dusver geen terugvoering ontvang nie.

“Ons moedig die Bloemfonteinse gemeenskap aan om hul aansoeke om kansellasie in te dien en, met die oog op ’n skoner én veiliger Bloemfontein, aan te sluit by AfriForum se vullisverwyderingsinisiatief,” sê hy.

OFM Nuus dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.