Central SA
Noordwes-polisie soek taxibestuurder ná fietsryer se dood─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:34 Thu, 16 May 2024
“Die ongeluk het op ’n baie stil grondpad gebeur en hulle kies altyd ’n roete wat minder gevaarlik is.”
Niemand is nog in hegtenis geneem ná die dood van ’n fietsryer die afgelope naweek naby Sun City in Noordwes nie.
’n Saak van strafbare manslag word wel ondersoek, sê lt.kol. Amanda Funani, Noordwes-polisiewoordvoerder, nadat François Mienie (29) Saterdag (11/5) dood is nadat ’n taxi hom getref het.
Mienie het aan ’n 162 km-roete van Race to the Sun-grondpadwedren deelgeneem, wat van Hartbeespoortdam tot by Sun City gestrek het, toe hy geval het.
“Die groep fietsryers het afdraande gery en die taxi het in die aankomende verkeer met die bult opgekom. Die persoon voor François het glo gerem en hul wiele het vermoedelik teen mekaar geraak. Francois het geval en die taxi het sy kop getref,” vertel Fritz Pienaar, organiseerder van die Race to the Sun-fietsren.

François Mienie. Foto: Facebook
Die voorval het gebeur nadat Mienie sowat 115 km van die wedren afgelê het.
“Die polisieondersoek duur voort ná Saterdag se voorval. Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die saak sal na die NVG verwys word sodra die ondersoek afgehandel is. Die NVG sal besluit of die bestuurder vervolg moet word,” sê Funani
Pienaar vertel die ongeluk het op ’n baie stil grondpad gebeur en dat hulle altyd ’n roete kies wat minder gevaarlik is. “Ons het juis dié gebied gekies omdat dit as ’n lae risiko beskou word en ons doen alles moontlik om deelnemers se veiligheid te verseker. Dit is bloot ’n groot fratsongeluk. Dit is die eerste keer in 22 jaar wat so iets gebeur.”

François Mienie. Foto: Facebook
Mienie, ’n meganiese ingenieur van Centurion, was geliefd in fietsrykringe en was selfs ’n afrigter by Trivium Triathlon.
“Tot siens, Coach. Ons groet ’n groot gees! Jou sagte glimlag en geduldige stemtoon gaan ons mis. Niks was ooit te groot of te veel moeite vir jou. Dankie dat jy jou tyd vir ons as klub gegee het en ons elkeen bitter diep geraak het,” het die klub in ’n huldeblyk op Facebook geskryf.
“Jy was ’n voorbeeld van ’n ongelooflike man vir jou vrou, betroubare vriend, konstante staatmaker op alle vlakke. En iemand wat gedissiplineerd en gebalanseerd die lewe voluit kon aanpak! Ons gaan jou mis! Ons hoop jy kry jou Speedo Triathlon daarbo soos jy nog altyd wou.”
Mienie was die afgelope vyf jaar getroud met Alice Mienie.
OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh/cg
